NewsNews

Einstein was toe weer reg!

Wetenskap openbaar homself oral rondom ons. Dink maar aan die majestueuse golwe van die onmeetlike oseaan of die rimpelings wat ons soms in die pragtige wolkformasies sien.

Wetenskap openbaar homself oral rondom ons. Dink maar aan die majestueuse golwe van die onmeetlike oseaan of die rimpelings wat ons soms in die pragtige wolkformasies sien.
Afgesien van die besondere skoonheid van die natuur is daar baie elegante fisika-beginsels wat hierdie fantastiese verskynsels verklaar. Daar is ook fisika in ons selfone, televisies, internet, motors en selfs pendeltuie!
Op 14 September 2015 het die twee detektore van die Laser-Interferometer Gravitasionelegolf-observatorium (LIGO) so te sê gelyktydig ’n gravitasionele golf waargeneem. Dit is ‘n revolusionêre gebeurtenis met uiters belangrike wetenskaplike gevolge!
Einstein het bykans 100 jaar gelede sy Algemene Relatiwiteitsteorie gepubliseer. Dit stel dat gravitasie nie ‘n krag is nie, maar eerder dat dit ‘n manifestasie van die kromming van vierdimensionele ruimtetyd is. Dus word ruimte en tyd rondom ‘n massiewe voorwerp gebuig of gekrom, wat weer die beweging van voorwerpe deur hierdie omliggende ruimte beïnvloed. Einstein se hoogs suksesvolle teorie voorspel ook dat versnellende voorwerpe gravitasionele golwe sal uitstraal. Hierdie golwe beweeg deur die ruimte teen die spoed van lig en druk dit saam in een rigting, terwyl dit die ruimte in ‘n ander rigting uitrek.
Hierdie ontdekking het ook baie belangrike astrofisiese implikasies. Voorheen was dit onseker of gravitasiekolke (“black holes”) kon saamsmelt. LIGO se metings is ‘n direkte bewys dat dit wel moontlik is, en het ook besonderhede rakende die aparte kolke wat een geword het, verskaf. Volgens simulasies met behulp van ‘n superrekenaar het astrofisici afgelei dat die massa van die oorspronklike kolke onderskeidelik 29 en 36 keer die son se massa was. Die uiteindelike kolk wat toe gevorm het, het 62 keer meer massa as die son, en drie sonmassas is omgeskakel na energie in die vorm van gravitasionele golwe. Hierdie uitgestraalde energie was vir ’n oomblik meer as al die uitgestraalde lig van al die sterre in die heelal! Dit alles het in 20 millisekondes gebeur!
Veral hoërskoolleerders en ook die algemene publiek sal baie baat vind by ’n aandag-prikkelende lesing wat op 7 April om 18:00 in die NWU Sanlam Ouditorium aangebied sal word. Die spreker is ’n oud-Gimmie en voormalige nadoktorale genoot van NASA Goddard Space Flight Center, VSA, prof. Christo Venter.
Hy sal hierdie opspraakwekkende ontdekking van gravitasionele golwe deur LIGO in meer besonderhede bespreek en toelig met ’n opwindende multimedia-aanbieding. Vir verdere navrae, skakel Elanie van Rooyen by (018) 299 2423. Toegang is gratis.

Related Articles

Back to top button