Karwagte Jacques en Elna, werk vir hul kinders se toekoms

Elna en Jacques van den Berg is ouers wat enige iets sal doen sodat hulle kinders, ‘n goeie toekoms kan hê.

Elna en Jacques van den Berg is ouers wat enige iets sal doen sodat hulle kinders, ‘n goeie toekoms kan hê.
Dié gelukkige getroude paartjie is al vir baie jare karwagte in Potchefstroom. Elna het 15 jaar gelede begin karre oppas om ‘n bestaan te kan voer. Sy het dit eers by Miederpark Spar en toe by West Acres winkelsentrum gedoen.
Toe Mooirivier Mall in 2008 oopgemaak het, het Elna daar begin werk. Dit is dan ook daar wat sy vir Jacques ontmoet het. Hulle huwelik is die storie van twee karwagte wat liefde gevind het in ‘n winkelsentrum se parkeerarea. Kort voor lank is die paartjie op Valentynsdag in 2012 in die ou Cape Town Fish Market in Mooirivier Mall getroud.
Saam-saam het hulle in die warm son en laat nagte seker gemaak dat elke kar wat daar geparkeer word, veilig is. En hulle het van daar af karre opgepas by Canal Crossing en is nou al vir ‘n jaar gevestig in die parkeerterrein van Waterberry Square. Elna vertel graag van hulle tyd by Mooirivier Mall.
“Toe ons daar begin werk het, was daar nog nie eers teer gewees nie. Die karre het gestop net waar hulle wou, nou moes ons probeer het om hulle in ‘n ry te kry sodat dit darem ordelik is,” sê sy. Elna en Jacques sê albei hoe lekker hulle daar as getroude paartjie gewerk het. “Ons het baie mense gevang, karre wat gesteel is teruggekry en baie mense laat toesluit,” sê Jacques.
Vandag pas hulle steeds in die dag karre op en in die aand verkoop hulle heerlike hamburgers en worsrolle buite Impala en Bourbon Street. So help hulle hul seun Arthur om kursusse in rekenaartegnologie te voltooi. Arthur is 31 en het reeds verskeie kort kursusse voltooi. “Hy het al rekenaars begin regmaak vandat hy 9 jaar oud is,” sê Elna. Arthur het reeds bestaande kliënte in Potchefstroom wat hom al vir jare lank ondersteun.
“Hy weet genoeg van netwerke, hardeware en sagteware om amper enige rekenaarprobleem op te los,” sê sy.
“Dis ‘n voltydse werk,” sê Jacques wat ook groente vervoer in die vroeë oggendure. Hy begin al 03:30 in die oggend, dan pas hy en Elna van 10:00 tot 22:00 karre op, waarna hulle direk na Impala of Bourbons gaan, en daar kos verkoop tot die kuierplekke toemaak. Tussendeur die studies werk Arthur deur die dag aan kliënte se rekenaars, en in die aand help hy sy ouers om kos te verkoop.
Die Van den Berg gesin is ‘n goeie voorbeeld van hoe harde werk en uithouvermoë kan help om ‘n toekoms vir jou kinders te bied.
Elna en Jacques het besluit dat hulle kinders ‘n geleerdheid gaan hê, maak nie saak hoe hard hulle moet werk om dit reg te kry nie. Deur al die laat aande en lang warm dae, sien ‘n mens altyd ‘n glimlag op beide Jacques en Elna se gesigte.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version