‘n Kunstefees vir Potchefstroom is moontlik

Daar bestaan ‘n moontlikheid vir ‘n Afrikaanse kunstefees in Potchefstroom!

Daar bestaan ‘n moontlikheid vir ‘n Afrikaanse kunstefees in Potchefstroom!
Dit is die mening van ‘n belangegroep wat Dinsdagaand in Pretoria met die direksies van beide die Aardklop Stigting en Aardklop Kunstefees vergader het.
Die belangegroep het bestaan uit verteenwoordigers uit Potchefstroom asook die Afrikaanse kunstewêreld en donateurs.
Die groep wou die redes vir die besluit om die Aardklop kunstefees te staak beter te verstaan en inligting te bekom. Die Aardklop-direksies het volgens ‘n mediaverklaring van die groep volledige toeligting oor die geskiedenis en ontwikkeling van die fees sedert sy ontstaan in 1998 gegee, asook die redes vir die besluit om die fees in Potchefstroom te staak en die Aardklop Kunstefeesmaatskappy te sluit.
Die groep sê hulle het die redes vir die sluiting van die fees verstaan en aanvaar. Die Aardklop-direksie het daarna bevestig dat hulle voortgaan met die sluiting van die Aardklop Kunstefeesmaatskappy.
Die belangegroep meen egter dat daar ʼn moontlikheid bestaan om met ʼn Afrikaanse kunstefees in Potchefstroom voort te gaan en hulle gaan onmiddellik met alle belangegroepe in Potchefstroom, ander belanghebbendes soos moontlike borge en mense in die kunstewêreld, asook met die direksie van Aardklop Stigting, oorleg pleeg om die haalbaarheid en volhoubaarheid van so ʼn fees te ondersoek.
Die groep sê die gesprek het in goeie gees plaasgevind en die partye het onderneem om verdere gesprekke te voer.
Die komitee wat verdere gesprekke gaan voer is mnre. Japie Gouws – ATKV, Barnard Beukman – Media 24, dr. Theuns Eloff – Dagbreek Trust, me. Karen Meiring – KykNet Afrikaanse kanale, prof. Rikus Fick – NWU en mnre. Dewald van Breda – voorsitter Potchefstroom/Tlokwe Sakekamer en Chris Landsberg – gemeenskapsleier.

Exit mobile version