NewsNews

Kêrel rand glo ma en baba aan

’n Vrou en haar 18 maande oue baba is glo op Saterdag, 12 Maart omstreeks 03:15 deur die vrou se kêrel aangerand. Die vrou is deur die gesig geslaan en die baba teen die muur gestamp.

’n Vrou en haar 18 maande oue baba is glo op Saterdag, 12 Maart omstreeks 03:15 deur die vrou se kêrel aangerand. Die vrou is deur die gesig geslaan en die baba teen die muur gestamp.
Die voorval het naby Rooipoortjie plaasgevind.
Volgens ao. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, was die vrou by die huis toe haar kêrel haar omstreeks 02:00 gebel het. Hy het na bewering vir haar gesê dat sy na die kroeg toe moet kom waar hy besig was om te kuier. Sy het vir hom gesê dat sy nie kan kom nie, omdat sy na hulle baba moet kyk wat siek is.
Teen 03:15 het die kêrel by die huis aangekom waarna hy glo die deur oopgeskop het. Volgens Manyoba het hy die huis ingestorm en op die vrou begin skree.
“Hy het haar glo gevloek en gesê dat sy rondslaap,” het Manyoba gesê.
Tydens die woordewisseling het die paar se baba wakker geword en begin huil. Die man het na bewering die baba teen die muur gestamp. Die vrou het probeer keer maar die man het haar deur die gesig geslaan.
Volgens Manyoba is die polisie se Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Misdrywe-eenheid besig om ’n saak van aanranding met die opset om ernstig te beseer te ondersoek.
Manyoba sê baie sake van huishoudelike geweld word gerapporteer, maar wanneer die paartjies weer vrede gemaak het, word die sake weer teruggetrek.
Hy sê vroue wat hulself in gewelddadige verhoudings bevind moet enige aanranding by die polisie aanmeld.
Dr. Ronald E. Riggio, professor in sielkunde aan die Claremont McKenna College, het in ’n artikel in Psychology Today in 2015 vyf tekens gegee wanneer jy jouself moontlik in ’n gewelddadige verhouding bevind.
1. Jy loop die heeltyd op eiers
Om te verhoed dat jy nie jou maat ontstel nie, is jy waaksaam om nie iets te doen wat moontlik ’n negatiewe emosionele reaksie kan uitlok nie. Mense wat in gewelddadige verhoudings is weet nooit wanneer iets wat hulle doen of sê ’n teenreaksie kan uitlok nie.
2. Jou maat mag hulle emosies en opinies uitdruk maar jy mag nie
In gewelddadige verhoudings is daar altyd ’n wanbalans binne die verhouding. Jou maat mag altyd sy opinie lug, maar sodra jy negatiewe emosies uiter is jy onderhewig aan kritiek of selfs ’n negatiewe teenreaksie.
3. Jou maat wantrou jou en jou emosies
Gewoonlik het gewelddadige mense ’n baie lae selfbeeld wat lei tot wantroue in hulle maats.
Gewelddadige mense glo dat hulle maats se uitdrukking van ontevredenheid daarop uit is om seer te maak. Enige uitdrukking van emosie van jou kant af word as ’n aanval gesien.
4. Jy kan nie verhoudingsprobleme bespreek nie
Enige kritiek oor die verhouding word deur jou maat gesien as ’n aanval op hulle persoon.
Daarom vermy jy altyd die gesprek net om die ander persoon kalm te hou.
5. Jy voel die heeltyd verward en vasgevang
Jou maat gebruik emosionele appèlle om jou in die verhouding te hou.
Hy/sy gebruik sinne soos bv. “Ek het jou nodig” of “Jy kan my nie alleen los nie.”
As ’n slagoffer voel jy magteloos om enigiets omtrent die situasie te doen.

Related Articles

Back to top button