Betoging teen uitkontraktering

'n Groep van sowat 80 betogers van die EFF, Reform PUK en die Werkers Party het Maandagoggend onder leiding van ’n swaar polisie teenwoordigheid ’n memorandum aan die NWU Potchefstroomkampus oorhandig.

‘n Groep van sowat 80 betogers van die EFF, Reform PUK en die Werkers Party het Maandagoggend onder leiding van ’n swaar polisie teenwoordigheid ’n memorandum aan die NWU Potchefstroomkampus oorhandig.
In dié memorandum eis hulle dat die 38 werkers wat afgedank is na ’n optog wat op 26 Februarie op die kampus gehou is, weer aangestel word sonder verlies van inkomste. Ook dat klagtes teen studente wat deel van die optog was teruggetrek word.
Volgens Louis Jacobs, woordvoerder van die institusionele kantoor van die NWU, het die NWU Potchefstroomkampus geen werkers afgedank nie.


“Ons maak gebruik van buite-maatskappye wat bepaalde dienste op kampus verskaf. Die ooreenkoms is dat die werkers nie die universiteit se daaglikse bedrywighede mag ontwrig nie.
Na die optog van 26 Februarie het die universiteit dié maatskappy kennis gegee dat die betrokke werkers die kampus nie mag betree nie. Enige ongelukkigheid hieroor is ’n saak tussen dié werkers en die betrokke maatskappye.
Die universiteit kan nie met werkers onderhandel nie.
Wat die studente betref, is daar tans tugstappe wat vroeg in April sal voortgaan teen ses studente,” het Jacobs gesê.
Volgens ’n lid van Reform PUK was daar geen beplanning om ’n optog te hou op 26 Februarie nie. “Dit het gebeur omdat die bestuur nie bereid is om ons te antwoord op ons vrae rondom die werkers nie,” het ’n lid van Reform PUK gesê.
Een van die werkers wat na bewering afgedank is, het die memorandum ten volle gelees, waaronder die werkers eis dat hulle direk deur die universiteit in diens geneem word met ’n minimum salaris van R10 000, asook al die mediese-, studie- en ander voordele van ander werkers van die universiteit.
“Ons soek nie vir Servest hier nie, hulle byt ons mense vir te lank al uit. Prof. Dan Kgwadi, die visekanselier, verdien R2,4 miljoen, terwyl die werkers R2 500 verdien,” het Masha Mogorosi van Reform PUK gesê.
Die optog wat vreedsaam verloop het, het voor die institusionele kantoor se hek geëindig met die oorhandiging van die memorandum aan Robert Kettles van die kantoor van prof. Kgwadi.
Kettles het kennis geneem van die eise soos uiteengesit in die memorandum en het die betogers meegedeel dat die memorandum onder bestuur en die NWU Raad se aandag gebring sal word.
“Daar sal optogte die hele jaar wees tot daar aan ons eise voldoen word. By die Universiteit van Pretoria het 40 betogers daarin geslaag om die universiteit te dwing om uitkontraktering af te skaf. Ons kan dit ook doen,” het Masha Mogorosi van Reform PUK gesê.

 

Exit mobile version