Inspirasie en humor ontmoet by manne-oggend

North West Mental Health besluit om die manne te bederf...

Op Saterdag 5 Maart het North West Mental Health (NWMH) hul eerste formele fondswerwingsfunksie in die vorm van ‘n manne-oggend aangebied.
Volgens Christel van Eeden, direkteur van NWMH, het hulle besluit op ‘n Manne-oggend, omdat hulle van mening is dat die manne in ons samelewing in die hedendaagse tyd menige uitdagings moet trotseer, terwyl hul steeds as steunpilare van gesinne, families, gemeenskappe, boerderye en besighede moet sterk staan.
“Ons weet mans praat of huil nie maklik nie” sê sy, “ons doel vandag is om jul vir ‘n wyle te laat ontspan, te inspireer en jul te laat lag, want julle verdien dit”. Die boodskap agter dié oggend is die onontbeerklike feit dat slegte dinge met goeie mense gebeur, maar dat jy altyd die keuse het om jou verlies in ‘n wins om te skakel.
Hierdie boodskap is ondersteun deur TV persoonlikheid Theunis Nel, wat die manne inspireer het met ‘n interaktiewe vertelling van sy lewensveranderende motorfietsongeluk en die ongelooflike getuienis wat daaruit voortgespruit het. “Maak nie saak wat ek verloor het nie, die lig wat ek in my hart gekry het, is al wat saak maak,” sê Nel.
Na die ongeluk in November 2014 is sy regterarm geamputeer Hy toon merkwaardige herstel in sy regterbeen en het volle vertroue dat hy weer sal loop. Nel vertel dat hy nie kon keer wat met hom gebeur het nie, maar wat hy besluit het om daaraan te doen, is wat saakmaak. Hy verryk nou die lewens van talle deur sy getuienis en beklemtoon die belangrikheid dat jy ‘n werklike en lewende verhouding met God moet hê.
Verhoudings speel ‘n groot rol in die herstel en bemoedigingsproses, veral naby verhoudings met vriende en familie – of ‘engele’ soos hy hulle noem.
Om die inspirerende oggend ‘n bietjie humor te gee, het die uiters talentvolle Peter Mitchell, beter bekend as Pietman die Skot, die manne behoorlik laat lag. Met sy verskeidenheid van persona’s – ‘n volbloed Skot na die van Tolla van der Merwe – asook sy vrolike liedjies, het hy die atmosfeer verander na die van ‘n gesellige kuiertjie tussen goeie vriende.

Peter Mitchell vermaak die manne.

Na afloop van die funksie het NWMH vir die manne van N12-Motors die eetgoed en gemmerbier geneem wat oorgebly het. As nie-winsgewende organisasie wat ‘n gratis diens lewer aan mense met intellektuele-, fisiese- en psigiatriese gestremdhede, bedank North West Mental Health graag hul borge wat bygedra het tot die sukses van hierdie oggend:
-Oom Sakkie by NTT Volkswagen vir Pietman se vervoer
-Frans by Rooshoek gastehuis vir Pietman se verblyf
-Fun2Chino vir Pietman se aandete
-MSM vir die musiek
-Regardo by ALS
-Deon by Staalbeer
-Philip van der Walt wat die motorfiets-erewag vir Theunis hanteer het
-Theunis Nel
-Pietman die Skot vir sy groot donasie aan NWMH
-Almal wat bygedra het tot die sukses van die funksie
-Ons Hemelse Vader vir Sy leiding en die verwesenliking van ons droom en gebede.

Hannes Botha, Sakkie Stoltz en Chris Bodenstein het heerlik geëet aan die versnaperinge.
CW van Huysteen en Piet van der Merwe het van Schweizer Reneke gekom vir die manne-oggend.
Piet van Zyl, Ryno Bornman en Regard Bornman geniet die manne-oggend.
Exit mobile version