Oud-rektor nou baas van Suidwes Groep

Sy aanstelling as hoof uitvoerende beampte van die Suidwes Groep is ‘n droom wat waar geword het waaroor hy baie opgewonde is, sê dr. Herman van Schalkwyk.

Sy aanstelling as hoof uitvoerende beampte van die Suidwes Groep is ‘n droom wat waar geword het waaroor hy baie opgewonde is, sê dr. Herman van Schalkwyk.
Hy was tot einde verlede jaar rektor van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus (NWU-Pukke).
Die NWU-raad het van Schalkwyk in Desember verlede jaar ‘n goue handdruk gegee nadat dit geblyk het ‘n raadsbesluit in 2013 dat sy termyn tot in 2020 sou strek, ongeldig was. Meer besonderhede oor dié skikkingsooreenkoms is nie bekend gemaak nie.
Van Schalkwyk was vanaf Januarie 2010 rektor.
Vandeesweek het hy gesê hy sien dié gebeure as deel van God se plan vir sy lewe en dat dit eintlik die weg gebaan het om sy ideale nog vroeër te verwesenlik as beplan. “Ek is steeds lief vir die Puk en sal aanhou belang stel in wat daar gebeur.”
Van Schalkwyk en sy vrou, Rélyne, is nou reeds druk besig met trekreëlings van Bloemfontein na Leeudoringstad, waar die Suidwes Groep se hoofkantoor is. Van Schalkwyk begin op 1 April as bestuurshoof by dié landboumaatskappy.
“Ek en Rélyne is gewoond aan klein dorpies: ek het op ‘n plaas naby Warden in die Vrystaat groot geword en sy in Fouriesburg. Ek sal nie behoorlik na ons lede en kliënte kan omsien indien ek nie deel van die gemeenskap van Leeudoringstad word nie. Ek wil saam met hulle dinge ervaar en dit help oplos.”
Die drie Van Schalkwykseuns sal naweke in vakansies in Leeudoringstad kan gaan kuier. Niel, die oudste, het pas sy graad in risikobestuur en landbou-ekonomie aan die Puk verwerf en help om sy pa se drie plase in die Vrystaat te bestuur. Willem is ‘n tweedejaarstudent in veekunde en landbou-ekonomie by die Universiteit van die Vrystaat en Herman jr. is in gr. 8 in Grey College in Bloemfontein.
Die twee oudste seuns volg in hul pa se voetspore: hy is ‘n gerekende landbou-kundige met ‘n doktorsgraad in landbou-ekonomie. Van Schalkwyk was vanaf begin vanjaar besturende direkteur van Aginfo, ‘n maatskappy wat hom toespits op die verskaffing van lanbou-inligting aan die landbou-sektor. Hy was tevore ook dekaan van die fakulteit natuur- en landbouwetenskappe by die Universiteit van die Vrystaat, lid van die Nasionale Landboubemarkingsraad, adjunkvoorsitter van die Landbank en ‘n spesialis in landbou-verwante hofsake. In 2011 het landbouskrywers hom as nasionale landboukindige van die jaar aangewys.
As hoof uitvoerende beampte van Suidwes Groep sal Van Schalkwyk onder meer verantwoordelik wees om terugvoer aan die groep se raad te gee oor strategieë, die uitvoering en resultate daarvan. “Ons sal nou veral moet kyk na strategieë met die oog op die moontlike rommelgradering van ons land en na ‘n langtermynvisie en die regte besluite oor die droogte en gevolge daarvan.”

Exit mobile version