NewsNews

Molestering-slagoffer word nie beskerm nie, sê ma

Die ma van ’n dogtertjie wat seksueel aangerand is toe sy agt jaar oud was, voel dat die vonnis wat aan die oortreder opgelê is, nie haar dogter genoeg beskerm nie.

Die ma van ’n dogtertjie wat seksueel aangerand is toe sy agt jaar oud was, voel dat die vonnis wat aan die oortreder opgelê is, nie haar dogter genoeg beskerm nie.
Mnr. Arend Prinsloo (65) van Ventersdorp het in 2014 skuldig gepleit op vier aanklagte van seksuele aanranding en twee aanklagte van blootstelling of vertoon of veroorsaking van blootstelling of vertoon van kinderpornografie of pornografie aan kinders.
Hy is tot vier jaar gevangenisstraf, opgeskort vir vyf jaar, gevonnis vir die vier aanklagte van seksuele aanranding en twee jaar gevangenisstraf, opgeskort vir vyf jaar, vir die ander twee klagtes. Daarbenewens is Prinsloo gevonnis tot vyf jaar korrektiewe toesig wat bestaan uit huisarres 24 uur per dag.
Die huisarres geld nie vir die tye wat Prinsloo kerkdienste bywoon of ’n program vir seksuele oortreders bywoon nie.
In Prinsloo se vonnisoplegging word daar gestipuleer dat hy nie sonder toestemming van ’n korrektiewe beampte sy werk- of woonplek of die landdrosdistrik waar hy woon of werk verlaat nie.
Volgens die ma het sy hom egter al twee keer in inkopiesentrums in Potchefstroom raakgeloop terwyl haar dogter wat deur Prinsloo gemolesteer is, saam met haar was.
“Dit voel of ons nou onder huisarres is, omdat ons nêrens heen kan gaan oor die vrees dat ons weer in hom kan vasloop,” het die ma vertel.
Die gevolgtrekking van die ma was dat Korrektiewe Dienste vir Prinsloo toestemming gegee om in Potchefstroom inkopies te doen.
Volgens die ma verstaan sy nie hoe is dit moontlik dat Prinsloo, in weerwil van die vonnis, sulke toestemming kan bekom nie.
“Die vonnis beskerm dan glad nie my kind nie. Elke keer moet sy weer die trauma beleef as sy in hom vasloop,” het die ma gesê.
Die ma sê sy het ingestem op korrektiewe toesig maar volgens haar het sy gemeen haar kind sal kan afsluiting kry van die saak nadat hy skuldig gepleit het.
“Ek het ook gevoel hy is oud en volgens sy prokureur sieklik. Hy het ook sy enigste kind aan die dood afgestaan.
“Daarom het ek ingestem op korrektiewe toesig op die voorwaarde dat hy onder huisarres bly sodat ander kinders beskerm kan word. Nou lyk dit of hy kan kom en gaan soos hy wil. Ek het nie geweet dit is hoe dit werk nie,” het die ma gesê.
Volgens die ma was sy by die departement van korrektiewe dienste waar hulle vir haar gesê het dat hy wel toestemming gehad het om by die inkopiesentrum te wees.
Volgens die distrikkantoor van korrektiewe dienste is hulle besig om dit te ondersoek.
Volgens prof. Esmè van Rensburg van die Noordwes-Universiteit se vakgroep sielkunde en kenner in kinderpatologie, kan kinders wat aan so ‘n situasie blootgestel word as’t ware deur bloot die persoon weer raak te loop ge-hertraumatiseer word, hoewel dit sal verskil van kind tot kind.
“Die kind kan dalk ook in enige plek, soos ’n inkopiesentrum, byvoorbeeld al die tyd op die “uitkyk wees” vir die persoon – literatuur praat van Hiper-vigilance of hiper-waaksaamheid want hy word steeds as ‘n “bedreiging” ervaar. “Ek persoonlik dink ook nie kinders verstaan regtig van “korrektiewe toesig” nie.
“Hul denke is nog geneig om absoluut te wees en so ‘n kind kan dus ervaar dat die regsisteem hom/haar nie beskerm nie.
“Sonder om die konteks en feite te weet, kan ek net in die algemeen praat. Deur die oortreder gereeld raak te loop kan dalk ook langtermyn newe-effekte in stand hou en dus die kind se persoonlikheidsvorming negatief beïnvloed,” het Van Rensburg gesê.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button