Besigheid sowaar kinderspeletjies vir jong entrepreneur

Janu Fouché maak besigheid kinderspeletjies...

Young Entrepreneurs bied elke kwartaal ‘n kompetisie aan waar kinders onder 18 met ‘n besondere sakevernuf hul talente kan bewys. Die kompetisie is vir kinders met hul eie ondernemings en wenners word aangewys op grond van oorspronklikheid, innoverendheid en kreatiwiteit in hul ondernemings.
Een so ‘n jong entrepreneur is Janu Fouché, tans ‘n graad 8-leerling aan Hoërskool Ferdinand Postma, wie se talente in die sakewêreld reeds op laerskool begin kop uitsteek het.
Janu se brein dink al oor sake vandat hy net ‘n kleuter is.
“Ons het hom basiese entrepreneursvaardighede geleer vandat hy drie jaar oud was,” sê sy ma, Susan Fouché, wat saam met hom tamaties geplant en koekies gebak het om te verkoop. Janu het al amper alles onder die son verkoop, gemmerbier, sjokolade en selfs speelgoed. “Hy het geleer om sy geldjies te bestuur,” sê Susan.
Na verskeie sakeplanne waarmee Janu sy geld bymekaar gemaak het, het hy besluit om ‘n bordspeletjie te ontwerp wat ander kinders ook leer hoe om soos entrepreneurs te dink. Die speletjie, naamlik Young Entrepreneur Emporium, is al bekend onder sommige Potchefstromers en word verkoop vir R330.
Janu se droom is dat die laerskole in Potchefstroom sy speletjie sal aankoop en as deel van die kurrikulum in ekonomiese bestuurswetenskappe gebruik.
Janu is einde verlede jaar aangewys as een van die vier Young Entrepreneurs van 2015 en het ‘n bedrag van R1 000 gewen. Die vier kwartaalwenners is dan outomaties ook die finaliste vir die groot wenner aan die einde van die jaar.
“Dit is vir ons lekker om Janu Fouché aan te wys as YE (Young Entrepreneur) se eerste wenner,” is op sy sertifikaat geskryf. “Jou inskrywing het voorwaar bo die ander uitgestaan en het die vereistes van die kompetisie oortref!”
Janu staan nou die kans om die groot prys van R5 000 te wen, asook ‘n Tablet. Die wenner is nog nie bekendgemaak nie, maar sy ouers is baie positief oor sy inskrywing.
Vir meer inligting oor Janu se briljante bordspeletjie, gaan like Young Entrepreneur Emporium op Facebook of kontak Susan Fouché by 082 048 6309.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version