Bouval broeiplek vir siektes

Inwoners rondom die bouval in Eleazerstraat 5 is keelvol vir dié erf wat ’n vullishoop geword het. Hulle sê dit is besig om ’n broeiplek te word vir rotte, dwelmgebruik en om van ander misdaad eers te praat nie. Die huis het in 2015 afgebrand, maar volgens Annemarie Lensing, ’n lid van die trustees van Urban Living, was die huis al ’n probleem nog voor dit afgebrand het.

Inwoners rondom die bouval in Eleazerstraat 5 is keelvol vir dié erf wat ’n vullishoop geword het.
Hulle sê dit is besig om ’n broeiplek te word vir rotte, dwelmgebruik en om van ander misdaad eers te praat nie.
Die huis het in 2015 afgebrand, maar volgens Annemarie Lensing, ’n lid van die trustees van Urban Living, was die huis al ’n probleem nog voor dit afgebrand het.
Volgens haar sukkel sy al baie lank met die stadsraad om iets omtrent die situasie te doen. Dit hou ook ’n gesondheidsrisiko in.
“Daar is mense wat daar woon, volwassenes maar ook kinders so jonk as 10,” sê Lensing.
’n Buurman wat anoniem wil bly uit vrees dat daar weer by hom ingebreek sal word, vermoed dat haweloses wat dié huis as ’n slaapplek gebruik, die skuldiges is.
“Hulle hou my dop en weet wanneer ek nie by die huis is nie,” sê hy.
Lensing het nie net haar kommer oor die sekuriteitsrisiko uitgespreek nie maar ook oor die gesondheidsrisiko wat die bouval, wat nou ook ’n vullishoop geword het, inhou.
Met die Herald se besoek aan die huis saam met Lensing is daar tussen die hope rommel ook menslike ontlasting en gebruikte inspuitnaalde gevind.
“By Urban Living is ons nog gelukkig omdat ons baie goeie sekuriteit het, maar dit bly ’n gesondheidskwessie vir almal. Ek het al maatskaplike werkers hier gehad, maar hulle kon nie die kinders opspoor wat hier woon nie.
’n Ruk gelede het die stadsraad ons gewaarsku dat die grond agter Urban Living wat ook aan ons behoort, te dig bebos is.
Terwyl ek nog besig was om kwotasies te kry om dit skoon te maak, het die stadsraad dit sommer self kom doen en vir ons ’n rekening van R28 000 gegee.
Nou hoekom doen hulle nie dieselfde met die huis wat daar staan nie,” wil Lensing weet.
Sover die Herald kon vasstel is die huis deel van ’n onafgehandelde boedel. Volgens Lensing moet daar egter ’n administrateur van die boedel wees waarheen die rekening vir die skoonmaak van die erf gestuur kan word.
Een van die bure wil sy huis verkoop maar hy kry dit nie verkoop nie, want niemand wil langs dié huis woon nie.
Teen druktyd het die stadsraad nie gereageer op die Herald se versoeke op kommentaar nie.

Exit mobile version