‘Daai groot stem is nou stil’ – ongeluk eis geliefde pa

“Daai groot stem is nou stil.” So sê Monique Joubert oor die dood van haar geliefde pa, Sjean Joubert. Sjean (53), ’n bekende ekonoom in Potchefstroom wat talle boere met hulle finansiële beplanning gehelp het, is Vrydag op die N12 naby Lanseria in ’n motorfietsongeluk dood.

“Daai groot stem is nou stil.” So sê Monique Joubert oor die dood van haar geliefde pa, Sjean Joubert.
Sjean (53), ’n bekende ekonoom in Potchefstroom wat talle boere met hulle finansiële beplanning gehelp het, is Vrydag op die N12 naby Lanseria in ’n motorfietsongeluk dood.
Volgens Monique blyk dit dat daar ’n ongeluk voor haar pa plaasgevind het. Hy het probeer om dit te vermy, maar met een van die voertuie gebots. Hy is op slag dood.
Die polisie het haar gebel en net vir haar gesê daar was ’n ongeluk. Sy het haar swaer gebel om saam met haar na haar pa toe te ry.
“Ek het gedink ek moet na ’n hospitaal toe ry, maar my swaer het hulle gebel, waarna hulle vir hom die nuus gegee het dat my pa dood is,” vertel Monique.
“Toe ek hoor hy is dood, was dit onwerklik. Ek was eers kwaad, toe word dit seer, maar dan raak mens weer besig. Sodra ek weer stil raak soek ek hom, ek wag dat hy moet terugkom,” vertel Margot Joubert, Sjean se vrou van 35 jaar.
Sowat 500 boodskappe van simpatie het ingestroom nadat mense uitgevind het van Sjean se ongeluk.
“Groot mans het begin huil toe hulle uitvind,” vertel Margot.
Volgens Margot en Monique was Sjean ’n man wat ’n passie gehad het om mense te help. “Hy was ’n bemoedigende mens wat almal met deernis hanteer het. Dit het nie saak gemaak of jy die burgemeester of die karwag was nie, hy het almal dieselfde behandel,” vertel Margot.
“Hy was ’n groot familieman en baie goeie pa. Hy sou sommer vreemde mense voorkeer om vir hulle foto’s van sy kinders en kleinkinders te wys,” vertel Monique.
“Ons was mekaar se eerste liefdes, hy het my altyd beskerm, asof hy ’n skild om my gevorm het as ek dit nodig gehad het. Hy het oefening gehaat, maar ter wille van my het hy saam met my by die gym aangesluit.
“Maar hy het meer met sy vriende gestaan en gesels as oefen,” vertel Margot met ’n glimlag.
“Doen die regte dinge, reg,” is ’n slagspreuk wat die familie aan Sjean koppel omdat hy geglo het daar nie grys areas is nie, dinge is of reg of verkeerd.
“Ons kan nie genoeg dankie sê vir Johan van Deventer, die begrafnisondernemer, wat uit sy pad gegaan het om ons te help nie en Centurion BMW wat Sjean se motorfiets gaan haal het. Hulle het selfs die winkel toegemaak toe hulle hoor van Sjean se ongeluk. Almal wat ons bygestaan het in die tyd, ons waardeer dit baie,” sê Margot.
Sjean laat sy vrou Margot, kinders Monique, Carla en Stefan Myburgh en Paul en Estie, asook sy enigste kleinkind Amelie Myburgh agter.
Sjean se verassingsdiens word op Vrydag 5 Februarie om 10:00 vanuit die Gereformeerde kerk, Bult Teologiese skool in Molenstraat gehou.

Exit mobile version