NewsNews

Nie plek vir al die Gr 1’s

Die Herald het deur ’n betroubare bron verneem dat ongeveer 500 kinders Woensdag, toe die skool begin het, nie plek in enige van die stad se skole gehad het nie.

Die Herald het deur ’n betroubare bron verneem dat ongeveer 500 kinders Woensdag, toe die skool begin het, nie plek in enige van die stad se skole gehad het nie.
Een skool het oor die 400 aansoeke gekry, maar hulle het net plek gehad het vir 80 nuwe Gr.1’s. Maandag en Dinsdag was daar lang rye ouers by die departement se areakantoor wat tevergeefs nog plek kom soek het vir hulle kinders. Baie ouers het geen ander keuse gehad as om in die dae voor die skole begin het, nog van deur tot deur te gaan om te hoor of daar nog plek in die skole is. Gewoonlik moes hulle in lang rye by die skool self ook wag, net om te hoor dat hulle nie gehelp kan word nie.
Volgens die bron het die probleem eksponensiële groei ondergaan vanaf 2009. Waar ’n skool wat 80 kinders kon neem gewoonlik so 100 aansoeke gekry het, het dit elke jaar meer geword tot waar daar 400 plus aansoeke voor ’n skool se deur land. Die Herald verstaan dat die meeste skole ’n waglys van gemiddeld 200 het. Dit blyk dat die grootste probleem by Engels-medium skole is. Die departement van onderwys het ’n nuwe laerskool in Promosa gebou, maar dié het nog nie begin leerlinge inneem nie, vermoedelik omdat die skool nog nie geregistreer is nie.
Die meeste skole het kleuterskole wat hul voer. Soos dit aan die Herald verduidelik is, kry die Gr. R groep van die skool dan voorkeur as dit kom by Gr. 1 toelating, daarna word daar gekyk na kinders wat reeds boeties of sussies in die skool het, daarna word gekyk na die area waar die ouers woon. Hoe nader iemand aan die skool woon, hoe hoër is die kind se naam op die lys. Kleuterskole self het ook gemiddeld drie jaar wagtydperke.
Die departement sal eers na die eerste dag kan sien waar moontlik nog plek vir die nagenoeg 500 leerders is.
Die skole voel dat hulle hande afgekap is en het alle navrae na die departement toe verwys. Teen druktyd het die departement nog nie gereageer op die Herald se versoeke op kommentaar nie.

Related Articles

Back to top button