CommunityNews

Kersfees – ‘n eensame tyd vir sommiges

Nie almal kan Kersfees spandeer saam met familie nie...

Hierdie tyd van die jaar word almal opgewonde oor die Kersseisoen en die tyd wat saam met families spandeer kan word na ‘n lang jaar se harde werk. Wanneer ons dink aan Kersfees dan dink ons aan samesyn, geskenke om die kersboom en ‘n heerlike ete om ‘n groot tafel met al die ooms, tannies, oupas en oumas. Dit is wat Kersfees behoort te wees, maar wat as jy Kersfees vat en al die familie, samesyn, gesels en gelag heeltemal wegvat? Dan kry jy ‘n baie eensame tyd van die jaar… dit is nie wat Kersfees behoort te wees nie.
In Potchefstroom is daar jaarliks op 25 Desember vele bejaardes wat Kersfees moet deurbring sonder al die positiewe en warm gedagtes wat daarmee gepaard gaan – alleen. Volgens Miriana de Villiers, bestuurder van SAVF Ons Hulde het hulle sowat 28 inwoners wat voorheen Witrand pasiënte was, en baie van hulle het geen heenkome nie.
“Van die inwoners het niks en niemand, en geen kontak met die buitelewe nie,” sê De Villiers. Vir van hierdie bejaardes is Ons Hulde die enigste familie wat hulle al die afgelope 10 tot 15 jaar het. Alhoewel daar baie bejaardes hier is wat geen familie het nie, is dit amper meer hartseer hoe die wat wel familie het, ook ‘n baie eensame lewe moet lei. “Hier kom kuier nooit iemand vir van hierdie mense nie, maar die dag as hulle oorlede is, dan sien jy hoe stop die duur karre hier buite, hoewel hulle nooit betrokke was of ‘n sent by gedra het nie”.
Ons Hulde probeer wel hulle bes om Kersfees tog ‘n tyd van familie en vriende te maak, deur self die inwoners te bederf met ‘n heerlike Kersete, maar aangesien hulle afhanklik is van staatsubsidie, is fondse beperk, en kan hulle ook net soveel doen om die mense se Kersfees ‘n bietjie minder eensaam te maak.Verder sê De Villiers, word hulle ook baie ondersteun deur instansies soos die Bulldogs, die Lions, FNB en die Rotariërs. “Hulle is baie betrokke by ons en bring jaarliks vir hierdie mense geskenkpakkies vir Kersfees,” sê sy, “maar dit is soms al geskenk wat hulle kry”. De Villiers sê dat hulle geseënd is om skenkings van die publiek af ook te kry. Kersfees is ‘n eensame tyd vir baie bejaardes, Anne Taylor, ‘n 77-jarige oud-Witrand pasiënt sê dat buiten haar Kersfese by Ons Hulde, het sy nog nooit ‘n behoorlike Kersfees gehad nie.
Daar is wel van die bejaardes by Ons Hulde wat gereeld besoek word deur hulle familie. Tannie Poppie Prinsloo en oom Kobus van Wyk is al lank vriende by Ons Hulde en hulle het albei familie in Potchefstroom wat oor Kersfees vir hulle kom kuier. Oom Kobus se seun, Janneman, kuier elke aand by hom. “Hy slaan nie een aand oor nie,” sê tannie Poppie, “nie een aand nie”. Tannie Poppie het ook kinders en kleinkinders in Potchefstroom, “ons sal definitief familie by mekaar wees die Kersfees,” sê sy, “maar ja, daar is baie mense hier wat nooit besoekers kry nie.
”Om so alleen te wees, veral op jou verjaarsdag of op Kersfees, kan die lewe bitter maak.
“Hoewel van hierdie bejaardes omring is deur mede-inwoners van Ons Hulde, sien hulle steeds nie familie nie, en kan Kersfees een van die eensaamste dae van die jaar wees. Soms is ‘n stywe drukkie en ‘n bietjie geselskap al wat die persoon nodig het om Kersfees ook te kan geniet,” sê sy.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button