Local newsNewsNews

Ouetehuise op hul knieë weens ‘n tekort aan geld

Dit is ‘n daaglikse finansiële stryd vir die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie (SAVF) in Potchefstroom om seker te maak bejaardes onder hulle sorg ontvang wat hulle benodig.

Dit is ‘n daaglikse finansiële stryd vir die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie (SAVF) in Potchefstroom om seker te maak bejaardes onder hulle sorg ontvang wat hulle benodig.
Die plaaslike SAVF lewer dienste aan talle bejaardes onder die sorg van hul twee tehuise, Ons Hulde en Huis Anna Viljoen.
Dit is egter nie net die SAVF nie, maar alle nie-winsgewende organisasies in Potchefstroom, sowel as in die res van die land, wat op hul knieë is weens gebrekkige subsidies van die staat.
Volgens Marieta Kemp, voorsitter van die Nasionale Koalisie vir Maatskaplike Dienste (NACOSS), ly kinders, gesinne en gemeenskappe daaronder wanneer die regering nie NWO’s se subsidies betyds betaal nie, of die toelae so min is dat NWO’s nie behoorlik kan funksioneer nie.
Kemp sê die staat behoort 75 persent van ‘n NWO se uitgawes te dek. Die NWO moet dan sorg vir die res deur borge te bekom en om fondse in te samel.
Die afgelope vyf jaar gee die staat egter net tussen 30% en 40%. Dié subsidies word ook, volgens Kemp, te laat betaal. NWO’s moet soms tot ses maande wag vir dié fondse.
Volgens haar kan sommige NWO’s vanjaar geen dienste lewer nie, omdat die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling nog geen subsidies vir die tydperk 2015/2016 betaal het nie.
Die SAVF Noordwes lewer nie net dienste aan bejaardes nie, maar ook aan kinders, gesinne en gemeenskappe. Hulle het ook ‘n kantoor vir maatskaplike werk in Potchefstroom.
Volgens Marthie Trollip, streekbestuurder van SAVF in Noordwes, ondergaan hulle groot finansiële uitdagings wat dit moeilik maak om dienste te lewer.
“Die ontwikkelingsbenadering het ‘n groot finansiële impak op SAVF se geriewe soos dat net verswakte ouer persone toegelaat word,” sê sy. “Die infrastruktuur van die tehuise moes aangepas word om hierdie verswakte ouer persone te akkommodeer en opgeleide verpleegpersoneel moet gebruik word”.
Trollip sê die verskil tussen die koste van dienste per eenheid en die subsidie wat van die staat ontvang word, word al hoe groter.
Volgens Trolllip is die gemiddelde koste per eenheid of persoon R6 000 per maand, maar die subsidie vir sub-ekonomiese inwoners is ‘n skrale R2 000.
“Selfs as inwoners ‘n gedeelte hiervan self bydra, dek dit steeds nie die koste per persoon nie.
“As ‘n gesondheids- en verpleegdiens gelewer moet word is dit dus baie belangrik dat die departement van gesondheid betrokke moet raak deur finansiering en ondersteuning van dié dienste,” sê sy.
Lucé Kleynhans, ‘n maatskaplike werker in Potchefstroom wat dienste lewer aan minderbevoorregtes sê staatsubsidies dek nie eers die helfte van die maandelikse uitgawes van die organisasie nie. Hulle is dus afhanklik van borge, skenkings en fondsinsamelingsprojekte.
“Die staat se subsidies word al hoe minder, terwyl ander bronne soos die Lotto onttrek,” sê sy. Borge is ook geneig om eerder projekte te ondersteun, maar wat nie help om ons bedryfsuitgawes te dek nie”.
Trollip sê subsidies behoort gelykstaande aan die koste per inwoner in residensiële sorg te wees.
“Befondsing vir ‘n maatskaplike werk pos moet ten minste 75 persent wees.
Kemp sê die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling behoort hande te vat met NWO’s om die probleem op te los.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button