NewsNews

‘My boetie los diep spore in geliefdes se harte’

“Ons harte is stukkend, my boetie los diep spore in die harte van almal wat vir hom lief was.” So sê Christel van Eeden, nadat haar broer, Marthinus Janse van Rensburg, in ’n motorongeluk dood is.

Janse van Rensburg (29) was op 23 Oktober omstreeks 17:30 op pad om sy suster te gaan haal sodat hulle vir hulle ma in Leeudoringstad kon gaan kuier.
Op die Carltonville-pad (R501) ongeveer 16 kilometer voor Potchefstroom, het ’n vragmotor se band gebars, waarna die vragmotor in Janse van Rensburg se baan ingeswaai het.
Van Eeden het om 17:28 ’n boodskap van haar broer ontvang om te sê dat hy 16 km van haar af is. Van Eeden het ’n boodskap teruggestuur, maar dit het nie by hom uitgekom nie. Die ongeluk het waarskynlik in dié tyd plaasgevind.
“My man, Jacques, het my gebel om te sê my boetie se werksmense het hom laat weet dat hy in ‘n ongeluk was,” vertel Van Eeden.
Sy het dadelik na haar broer se selfoon gebel, maar iemand anders het geantwoord.
“Hy het gesê dat my boetie in ‘n ongeluk was en ons moet kom. Ons het na die ongelukstoneel toe gejaag. Ek het heeltyd op pad gebid dat hy ‘okay’ moet wees, maar my boetie is op slag dood,” vertel Van Eeden.
Die trok het in Janse van Rensburg se baan ingeswaai, waarna die twee voertuie reg van voor teen mekaar gebots het. Volgens kapt. Mvula Chaka, polisiewoordvoerder, word ’n saak van strafbare manslag ondersoek.
Volgens Van Eeden is haar pa op 22 Oktober in 2003 aan ’n hartaanval dood. Sy was self twee dae later in ’n ongeluk, waarna sy verlam is.
“Ons sou ‘n ruiker saamvat wat ons die naweek op my pa se graf sou sit. En ons sou die Saterdag iets doen om my ongeluk te herdenk.
Ons vier dit jaarliks. My pa op die 22ste, my boetie op die 23ste en ek op die 24ste. Hoekom? Ek weet nie,” het sy gesê.
Marthinus laat sy ma Alta Janse van Rensburg, sy twee susters en hulle mans Talita en Herman Verwey en Christel en Jacques van Eeden agter. Volgens Van Eeden is almal met wie hy ooit in aanraking gekom het, se harte stukkend.
Johan Louw, een van Janse van Rensburg se goeie vriende, het gesê dat hy ’n ongelooflike mens was, met ’n hart van goud.
“Ek sal altyd sy koppies koffie en geselsies mis,” het hy gesê.
“Almal praat van die reus met die sagte hart. Vir sy jonge 29 jaar, was hy ‘n uitsonderlike mens. Met my pa se dood en my ongeluk, was hy die sterk een. Hy was die grootste ondersteuner en beskermer van sy ma en sussies. Maar hy het so ‘n klein hartjie gehad. Hy het nooit die mooi in die lewe gemis nie en van elke kuier ‘n geleentheid gemaak. Sy groot liefdes was tuinmaak, sy vriende en sy visse en voëltjies,” het Van Eeden gesê.

Related Articles

Back to top button