NewsNews

Bloedskenkkliniek vier 20 jaar van veilige bloed

In Augustus 1995, 20 jaar gelede, het die voormalige burgemeester van Potchefstroom, dr. Ebrahim Sooliman, ‘n dringende beroep op Potchefstromers gedoen om bloed te skenk.

In Augustus 1995, 20 jaar gelede, het die voormalige burgemeester van Potchefstroom, dr. Ebrahim Sooliman, ‘n dringende beroep op Potchefstromers gedoen om bloed te skenk.
Hy het die amptelike opening van die bloedskenkkliniek in Potchefstroom bygewoon en daarop gewys dat hospitale in die stad in daardie stadium byna altyd ‘n ernstige tekort aan bloed gehad het.
Dit was erger gedurende vakansietye wanneer meer ongelukke plaasvind en gereelde skenkers weg is met vakansie.
“Een eenheid bloed kan ‘n lewe red,” het dr. Sooliman gesê.
Me. Dianne de Coning van die SA Bloedoortappingsdiens, het daardie dag ‘n nuwe konsep, dat elke gemeenskap in sy eie bloedaanvraag behoort te voorsien, bekendgemaak.
Die diens was toe reeds vir 45 jaar in Potchefstroom bedrywig en daar is maandeliks tussen 300 en 400 eenhede bloed geskenk. Een van die oogmerke van die nuwe kliniek was om die getal skenkings te verdubbel. Tans is dié oogmerk nie net behaal nie, maar dit het met rasse skrede toegeneem. Die mikpunt van April 2015 tot April 2016 is 5 300 eenhede en tot op hede is reeds 2 116 eenhede veilige bloed ontvang.
‘n Groot held in die stad is mnr. Neville Moss, Potchefstroom se grootste bloedskenker. Mnr. Moss het op 26 Junie 1958, op die ouderdom van 26 jaar, sy eerste eenheid bloed geskenk. Hy het van toe af elke 56 dae, vir 57 jaar, ‘n pint bloed geskenk.
Mnr. Moss het op 28 Julie 2015 sy 352ste pint bloed geskenk. Dit is gelykstaande aan sowat 154 liter, oftewel 77 twee liter bottels vol bloed!!
Mnr. Moss mis nooit sy bloedskenk-afspraak nie en is trots op die feit dat hy al baie mense se lewens kon red. Sy dogter, wat haar pa se voorbeeld volg, is ook ‘n gereelde bloedskenker. Mnr. Moss nooi Potchefstromers om ook elke 56 dae ‘n pint bloed te skenk en ‘n verskil te maak in iemand se lewe.
Die kliniek het elke tweede Saterdag ‘n mobiele kliniek in West Acres-sentrum en elke twee tot drie maande in die Mooirivier Mall. Daar word sowat elke 30 tot 60 sekondes bloed benodig. So kom maak ‘n verskil en skenk bloed by die kliniek in Esselenstraat op die Bult. Skakel hulle by (018) 297 0530 vir meer inligting. Die bloedskenkkliniek sê dankie aan al hul skenkers.

You can read the full story on our App. Download it here.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button