Uit my dagboek: Nuwe pa ’n Siek kind is nie grappies nie

Trane, trane, trane. Mamma se trane, pappa se trane, Aiden se trane. ’n Siek baba is nie grappies nie.

Trane, trane, trane.
Mamma se trane, pappa se trane, Aiden se trane. ’n Siek baba is nie grappies nie. My vrou dink ek, het gehuil uit simpatie met haar seuntjie. Ek het gehuil uit pure moedeloosheid, want na drie dae se niks slaap nie het ek nie meer geweet watter kant toe nie. Niks het gewerk nie, nie bottels nie, nie sy fopspeen nie, nie ons gewone “peek-a-boo” speletjie nie. Ek en Lizelle het beurte gemaak om hom aan die slaap te probeer sus. Naderhand is ‘n mens so gewoond aan die skreeu, dat dít jou aan die slaap maak.
Ons was vir die langnaweek by my skoonnouers. Ek dink tot ouma en oupa was verlig toe ons Maandagmiddag daar wegry. By die huis staan die “nebulizer” soos die heilige graal (die beker waarin die bloed van Christus opgevang is by sy kruisiging of die beker wat gebruik word by die Laaste Avondmaal), voor ons. Die engele sing en die “nebulizer” skitter in die kamer. Ons het dadelik vir Aiden die masker opgesit. Hy lyk soos ’n baba Bane (karakter van Batman reeks) en hy is net so kwaad soos Bane van die rolprent.
Skreeu en gaan tekere, totdat al die slym begin loskom. Hy kan weer bietjie deur sy neus asemhaal. Die stoom is sy maatjie, begin hy agterkom. So ontaard dit in ’n speletjie vir Aiden. Pappa sit die masker op, dan draai hy sy gesig weg.
Dan is pappa agterna met die masker, dan draai hy weer anderkant toe, elke keer met ’n skaterlag. Aanvanklik is ek geirriteerd. Ek is van my slaap ontneem, nou dink hy dit is ’n groot grap. Maar hoe bly mens kwaad vir ’n babatjie wat glimlag? Sy laggie is so aansteeklik dat alle denke van slaap by die venster uitvlieg. Ek roep my vrou en naderhand speel ons almal die masker speletjie.
Die persoon wat gesê het dat geluk die gelag van ‘n kind is, was in die kol met dié opmerking.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version