NewsNews

Solidariteit soek antwoorde oor NWU-groeplewensversekering

Die vakbond Solidariteit het vandeesweek verskeie vrae rondom die administrasie van personeel by die Noordwes-Universiteit (NWU) se groeplewensversekering aan prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die NWU, gerig.

Die vakbond Solidariteit het vandeesweek verskeie vrae rondom die administrasie van personeel by die Noordwes-Universiteit (NWU) se groeplewensversekering aan prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die NWU, gerig.
Die versoek volg nadat die universiteit versuim het om te reageer op die vakbond se vrae oor die wettigheid van ‘n maatskappy wat aangestel is om die fonds te administreer.
Solidariteit eis nou ingevolge die wet op die bevordering van toegang tot inligting antwoorde van die universiteit.
‘n Ondersoek deur die vakbond kon geen bewese rekord van Pebbles Employee Benefits CC se bestaan oplewer nie. Dié maatskappy is ingevolge ‘n tenderproses deur die universiteit aangestel om lede van die Momentum GroupLife Scheme se groepslewensversekering te administreer.
Volgens Johan Botha, hoof van die professionele bedryf in Solidariteit, het hulle die uitvoerende direkteur van die universiteit se menslike hulpbron-departement, mnr. Victor Mothobi, sedert April vanjaar verskeie kere skriftelik hieroor uitgevra.
Botha sê die universiteit hou vol ‘n billike tenderproses is gevolg en dat die administrasie van die fonds deur die genoemde maatskappy tot lede se voordeel is. Ons meen egter die tenderproses was nie deursigtig nie en dat die onduidelikheid oor die maatskappy se bestaan verskeie gevaarligte laat flikker.”
Botha sê Solidariteit-lede by die universiteit wat tot die genoemde fonds behoort is uiters bekommerd en vrees dat hul geld moontlik in die verkeerde hande beland het. “Ons sal dit eenvoudig nie toelaat nie en sal hierdie kwessie tot in die hoogste hof beveg.”
Solidariteit vra in sy aansoek vir die volledige dokumentasie oor die advertering van die tenderproses, die notules van vergaderings waar die kriteria vir die tenderproses vasgestel is, die aansoeke wat ontvang is, die evaluering van die aansoeke, die toekenning van die kontrak, asook die kontrak wat aan Pebbles Employee Benefits toegeken is.
Louis Jacobs, direkteur van korporatiewe kommunikasie en belanghebber-verhoudinge by die NWU het bevestig ’n aansoek om inligting oor die tenderproses in terme van die wet op bevordering van toegang tot inligting is van Solidariteit ontvang en kry tans aandag.
“In terme van die wet het die universiteit 30 dae om op die versoek te reageer,” sê Jacobs.

Related Articles

Back to top button