NewsNews

Op patrollie in Potchefstroom

Die radio spring aan die lewe met ’n kraak.

Die radio spring aan die lewe met ’n kraak.

'n Hek by 'n kompleks op die bult is afgebreek, Mooirivier stel ondersoek in.
‘n Hek by ‘n kompleks op die bult is afgebreek, Mooirivier stel ondersoek in.

“Charlie Hotel kom in”
“Stuur vir Charlie Hotel”
“Paniek ontvang, is jy naby?”
“Charlie Hotel op pad”

So begin ’n aand vir die reaksie beamptes van Mooirivier Beskerming. Die Herald het ’n paar patrollieskofte saam met Mooirivier Beskerming gewerk om eerstehands te ervaar wat hulle doen. Om 19:00 op ’n Vrydagaand klim ek in die ongemerkte voertuig. Vanaand patrolleer ons die strate van Potchefstroom.

Ons bekyk alles wat verdag lyk, hekke wat oopstaan en voertuie wat snaakse roetes in die woongebiede ry. Dit maak nie saak of jy ’n kliënt is van Mooirivier Beskerming nie, as iets uit plek uit lyk word daar ondersoek ingestel. Die eienaar van Mooirivier Beskerming, mnr. Johann Haefele, noem dat die werk wat hulle doen bloot gemeenskapsdiens is. Teen 20:00 stop ons vir ’n koffie en ontmoet die paramedici van ER24, so word die aand beplan. Mooirivier en ER24 het onlangs ’n samewerkingsooreenkoms gesluit. Mooirivier se kliënte ontvang onmiddellik mediese hulp soos hulle dit nodig het as iets gebeur. So ontvang ER24 sekuriteit bystand op tonele waar pasiënte vyandig optree teen paramedici. Om 21:00 is ons weer op die pad. ER24 ambulanse help met patrollies, sodat daar ekstra voertuie op die pad is. Die aand is stil, die skelms kry seker koud. Christiaan, saam wie ons ry vertel van die inbraak tendense op die Bult tydens vakansies, daarom fokus ons vir ’n lang ruk op die Bult.

Reaksiebeamptes kyk of alles in orde is by 'n perseel wat se hek oopgestaan het. Foto’s: Dustin Wetdewich
Reaksiebeamptes kyk of alles in orde is by ‘n perseel wat se hek oopgestaan het. Foto’s: Dustin Wetdewich

Om 23:00 kom die radio-roep deur van ’n man en vrou wat baklei by Cachetpark, waar twee kinders ook betrokke is. Christiaan antwoord die radio, ons is binne oomblikke daar. Nog ’n voertuig word uitgeroep vir bystand, die situasie word gekalmeer en ons kry die familie veilig by die huis.

“Party aande is baie besig, dan kry ons ’n klomp ernstige oproepe, ander aande is dit weer stil,” vertel Christiaan.
Om 00:00 skuif ons oor na Grimbeeckpark, so tussen die gesels deur sien ons ’n verdagte voertuig wat snaaks ry in die buurt. Ons volg die voertuig om te sien wat hulle wil doen. “Hulle ry snaaks, dit is nie asof hulle op pad huis toe is nie. Hulle draai by strate in, dan weer om die blok. Dit is baie verdag,” sê Christiaan.

Die kommunikasie tussen die beheerkamer en ander reaksievoertuie spring heen en weer, soos die voertuie gekoördineer moet word. Uiteindelik gaan stop die voertuig by ’n huis.

Om 01:00 roep ER24 se ambulansmanne ’n verdagte voertuig in, die nommerplaat word geskandeer deur die polisie, die voertuig behoort duidelik nie aan die bestuurder nie. Ons sit hom agterna. Op die Promosa-pad begin die voertuig spoed optel, die polisie word ingeroep, ons het ’n jaagtog op ons hande. Die voertuig draai af in Mohadin, ons volg kort op sy hakke, tot ons nie meer kan nie. “Ek ken nie die area nie, kom ons laat die polisie oorneem,” sê Christiaan soos ons onttrek.

Teen 02:00 besluit ons om die aand tot ’n einde te bring. Ewe skielik spring die radio weer aan die lewe, asof alles gewag het vir 02:00 om te gebeur. ’n Vrou is in die industriële gebied gevind wat in die pad lê, ’n ongeluk in Durrstraat, inbraak in een of ander woongebied. So draai ons om, om bystand te verleen op die volgende toneel. Om 05:00 laai Christiaan my af, die aand is verby.

“Nou gaan ek slaap,” sê ek vir hom.
“Ja ek ook, maar 08:00 is ek weer op kantoor en vanaand is ek weer op patrollie,” sê Christiaan.

Related Articles

Back to top button