Dominica se dood ‘n raaisel

“Sy het ARV-medikasie ontvang nadat haar bloedtoetse verkeerdelik getoon het dat sy HIV positief is.”

“Sy het ARV-medikasie ontvang nadat haar bloedtoetse verkeerdelik getoon het dat sy HIV positief is.”

So sê Dominica Moya se werkgewer wat anoniem wil bly, nadat Moya op 15 Junie dood is nadat sy op 8 Junie weer in die hospitaal opgeneem is. Moya is op ’n vorige besoek ARV-medikasie voorgeskryf, aangesien haar bloedtoetse getoon het dat sy HIV positief is. Volgens haar werkgewer het sy baie siek geword terwyl sy die medikasie gebruik het. Terwyl sy dit gebruik het, is sy met lewerversaking in die Potchefstroom Hospitaal opgeneem.

“Sy was so geel gewees, hulle het gesê dat sy dalk gif ingekry het, maar hulle wou ’n lewer biopsie doen om te kyk watter skade daar aan haar lewer is. Ongelukkig is sy dood voor hulle dit kon doen,” vertel haar werkgewer. Haar toestand het vererger toe sy tydens ’n besoek aan haar kinders in Klerksdorp inmekaargesak het. Moya is na die Klerksdorp Hospitaal geneem, waar sy behandeling ontvang het. Hier is ook bloedtoetse gedoen, waar daar bevind is dat sy nie HIV positief is nie. Die dokter het haar onmiddellik van die ARV-medikasie afgehaal. Daarna het dit gelyk asof sy beter word, maar op Sondag 7 Junie is Dominica weer in die hospitaal opgeneem. Die Herald het haar op 12 Junie besoek, maar sy kon nie regtig praat of baie beweeg nie. Volgens haar werkgewer was sy al sedert Dinsdag 9 Junie so siek.

Volgens ’n suster wat aan diens was, word vermoed dat Dominica ’n beroerte gehad het, maar ’n breinskandering moes nog gedoen word om dit te bevestig. “Ek het die volgende dag probeer bel om te hoor of hulle al die skandering gedoen het omdat die susters gesê het ek kan enige tyd skakel. Sover ek weet is dit ook nooit voor haar dood gedoen nie,” het haar werkgewer gesê. Volgens Moya se seuns weet hulle steeds nie waaraan hulle ma dood is nie. Volgens die hospitaal se woordvoerder, Modiri Mompati, het die pasiënt behoorlike mediese behandeling ontvang. Die hospitaal het ook nie enige klagte van die pasiënt of die familie ontvang nie.

Die Herald verneem dat Dominica se seuns deur middel van hul prokureurs ’n volledige ondersoek aangevra het sodat daar bepaal kan word presies wat met hulle ma gebeur het.

Die hospitaal het bevestig dat Dominica op 15 Junie oorlede is. Volgens die woordvoerder is sy oorlede aan haar ‘ernstige mediese toestand’.

Exit mobile version