Sewende keer mampoerkampioen

“Jy gaan nooit ryk word nie, maar dit is ’n kultuur waaraan jy behoort, ’n lekker stokperdjie.”

“Jy gaan nooit ryk word nie, maar dit is ’n kultuur waaraan jy behoort, ’n lekker stokperdjie.”

So gesels Boet Schoeman, wat onlangs vir die sewende keer as mampoerkampioen in Suid-Afrika aangewys is, oor sy stokery. Stook is in Boet se bloed. Die Schoemans, wat in 1844 van Oudtshoorn af noorde toe getrek het, het hulle stookketels saamgebring. Maar Boet sê dat hulle meestal witblits gestook het, wat met druiwe gemaak word.

Boet en Moos stook al vir 22 jaar saam.

“Ek was die eerste een van die Schoemans wat met mampoer begin het in 1992. Soos die oumense gesê het, ek het jukskei gebreek toe ek met mampoer begin het”, lag Boet. Boet, ook ’n baie bekende gesig elke jaar by Aardklop, is in 1994 vir die eerste keer as mampoerkampioen gekroon.

In 1995 het sy vrou Martie ook begin inskryf met haar likeurs. Boet en Martie het vinnig begin naam maak by die kampioenskappe. By vanjaar se kampioenskappe het Martie 11 brons, 11 silwer, 7 goud en 1 dubbel goud ontvang vir haar likeurs. Haar amandellikeur is ook aangewys as algehele likeurwenner.

“’n Dubbelgoud is wanneer ten minste 3 uit die 4 beoordelaars vir ’n produk ten minste 18 uit 20 gee,” verduidelik Boet. Boet se produkte het self vanjaar baie medaljes ingepalm, 5 brons, 13 silwer, 19 goud en 6 dubbelgoud. Maar dit het nie altyd so goed gegaan nie. “Nadat ek in 1995 vir die tweede keer in ’n ry as kampioen aangekondig is, het ek begin dink ek ken die stokery besigheid. Maar toe val ek hard. Ek is nou nog seer, so hard het ek geval,” lag Boet.

Hy moes eers weer wag tot 2001 om weer die kampioenskap te wen, maar van daar af het dit baie goed gegaan. Boet het in 2003 weer gewen, toe weer in 2012 en 2014 en vanjaar vir die sewende keer. Op die oog af het die stokery vir hom soos die Amerikaanse “moonshine” gelyk, maar Boet verduidelik dat dit amper dieselfde is, maar in Amerika gebruik hulle mielies, waar ons vrugte gebruik. Mampoer word ook uitsluitlik met natuurlike bestanddele en deur ’n natuurlike proses gemaak.

Die twee stookketels wat Boet gebruik het hul eie name, naamlik Oupa Dawie en Oupa Kiep. Albei kom uit die 1800’s en Boet laat die twee ou manne nog hard werk.Dit neem ongeveer 100kg perskes om ’n 750ml bottel mampoer te lewer – afhangende van die perske se suikerinhoud.

Boet se seun Dawie het ook onlangs aan die stokery begin deelneem en dit wil lyk asof die Schoemans vir ten minste nog een generasie gaan aanhou om kampioen mampoer en likeurs lewer.

Exit mobile version