Geliefde atleet sterf

VANDERBIJLPARK. - Hennie Janse van Rensburg (61), ‘n prominente figuur in die Vaaldriehoek se atletiekkringe, is op 24 April dood nadat hy vermoedelik deur elektrisiteit geskok is.

VANDERBIJLPARK. – Hennie Janse van Rensburg (61), ‘n prominente figuur in die Vaaldriehoek se atletiekkringe, is op 24 April dood nadat hy vermoedelik deur elektrisiteit geskok is.

Hennie is die betrokke dag omstreeks 12:30 deur die huishulp in sy tuin gevind, nadat sy vrou hom die oggend vroeg al vermis het. Sy het vriende gekontak wat na hom begin soek het. Hennie se selfoon en sleutels van sy bakkie was in die huis. Sy vriende het die normale roetes wat hy altyd gehardloop het gery en kon hom nie vind nie. Die huishulp het hom later by sy visdam gevind en sy skoonseun geroep.

Hennie se visdam was sy trots en hy het vermoedelik daar met elektriese krag in aanraking gekom en doodgeskok. Mediese personeel was baie gou op die toneel, maar hy was reeds dood. Hennie was ‘n bekende sakeman in die Vaaldriehoek en ook ‘n baie bekende en geliefde atleet. Hy het vir meer as ‘n dekade die AVD Landloop Kommissie as voorsitter bestuur en was ook lid van Atletiek Vaaldriehoek se Provinsiale Raad. Hy was ‘n kranige atleet en het in sy jonger dae ‘n hele paar silwermedaljes by die Comrades losgedraf. Hy was veral lief vir trail runs en het verlede jaar nog aan die Three Cranes driedag trail run deelgeneem. Volgens Malie van der Walt, ‘n vriendin van die gesin, was Hennie die onselfsugtigste mens wat sy geken het, en het ‘n oop hart en hand vir sy medemens gehad.

“Hy het veral baie klem gelê om die sport in die townships te ontwikkel en het gereeld tekkies en klere aan minderbevoorregte kinders gegee,” vertel Malie. Volgens Malie was hy geliefd onder wit en swart atlete en dit kon gesien word aan die aantal atlete van alle rasse wat sy gedenkdiens op Donderdag 30 April bygewoon het. Hennie laat ‘n onuitwisbare legacy agter in die provinsie en onder sy vriende. Hy laat sy vrou, dogter, skoonseun en kleindogter agter.

Exit mobile version