Barolong druk stadsraad oor grond

In die uitgawe van 24 Februarie 1995 berig die Herald op die voorblad dat die Barolong die stadsraad weer onder druk plaas oor die grond ten weste van Potchefstroom. Die Barolong meen dat dié grond vroeër aan hulle behoort het en het gedreig om dit te gaan beset. Die grond is geleë wes van die …

In die uitgawe van 24 Februarie 1995 berig die Herald op die voorblad dat die Barolong die stadsraad weer onder druk plaas oor die grond ten weste van Potchefstroom.

Die Barolong meen dat dié grond vroeër aan hulle behoort het en het gedreig om dit te gaan beset.

Die grond is geleë wes van die stad in die rigting van Klerksdorp tot ongeveer regoor New Machawie. Die stadsraad het die grond as hul eiendom vir baie jare as weiding verhuur en daar was baie jare gelede al pogings om dit as ’n natuurreservaat te ontwikkel.

Die Barolong het gedreig met besetting, ten spyte van ’n interdik wat die stadsraad teen hulle bekom het.

Die grondeis het ook ’n draai in die Herald se kantore gemaak toe lede van die Barolong kom eis het dat die Herald gratis plakkate moet verskaf om hul saak te sterk.

Om ’n lang storie kort te maak, is daar toe later tussen die stadsraad en die Barolong ooreengekom dat ’n stuk grond aan hul afgestaan word en dat die res van die grond afgestaan word vir die ontwikkeling van ’n natuurreservaat wat bekend sou staan as die Hoëveld Nasionale Park.

Uiteraard sou die Parkeraad hierby betrokke wees, maar hulle het later onttrek. Planne is blykbaar nog nie heeltemal laat vaar om dit steeds as ’n natuurreservaat te ontwikkel nie. Dit is egter nou bykans twintig jaar later en daar is geen teken daarvan, behalwe verdwene en vernielde grensdrade nie.

In dieselfde uitgawe op die voorblad word bespiegel oor wie die Interhoër daardie jaar gaan wen. Die voorbladfoto is juis van (’n heelwat jonger) mnr. Arnold van der Merwe van Gimmies en Jacques Lubbe, dié skool se o.17 Suid-Afrikaanse stapkampioen. Nou ja, Gimmies het toe die byeenkoms gewen.

Ook op die voorblad is egter die slegte nuus oor die dood van ’n 19-jarige verkeersman. Hy het met sy motorfiets gegly en teen ’n straatnaambord gebots. Hy was aan diens tydens die voorval.

In dieselfde uitgawe verskyn ’n berig oor die amptelike opening van die nuwe brandweerstasie. Mnr. Theo Grimbeek, eertydse hoof van beskermingsdienste van die stadsraad het die gebou geopen.

“Pukke wen bloedskenk Intervarsity” het ook die aandag getrek. Dit was ’n kompetisie tussen die Pukke, die destydse RAU, Tukkies en Kovsies. Die Pukke het 1 375 eenhede geskenk. Hul naaste teenstander was Kovsies, wat 1 078 eenhede geskenk het.

Die droogte wat tans groot dele van Noordwes teister was ook in 1995 ’n probleem en daar was selfs sprake dat waterbeperkings in die omgewing ingestel kon word.

’n 34-jarige vrou is in dié tyd dood toe haar man haar met ’n ander man in omhelsing betrap het. Haar man het haar met ’n broodmes gesteek. Die man met wie sy in omhelsing was is ook aangeval, maar kon daarin slaag om weg te kom.

Wanneer mens vinnig loer na pryse van daardie tyd kon jy gevriesde skaaptjops koop teen R11,83 per kg en braaiwors vir R6,95 p/kg. Cheddar kaas het jou R17,95 p/kg gekos en 100g Beacon sjokolade R1,95. Ai, ons moes toe meer sjokolade geëet het!

Exit mobile version