NAMPO 2015 ‘n ware landbou-vertoonvenster

Landbouprodusente en die publiek het van 12 tot 15 Mei weer die geleentheid om eerstehands te kom kyk hoe moderne landbou lyk en te sien wat nuut is op die mark. Die produkte van 650 uitstallers op een terrein kan behoorlik met mekaar vergelyk word tydens Graan SA se NAMPO Oesdag buite Bothaville in die …

Landbouprodusente en die publiek het van 12 tot 15 Mei weer die geleentheid om eerstehands te kom kyk hoe moderne landbou lyk en te sien wat nuut is op die mark.

Die produkte van 650 uitstallers op een terrein kan behoorlik met mekaar vergelyk word tydens Graan SA se NAMPO Oesdag buite Bothaville in die Vrystaat. Dié vertoonvenster van landbou het oor die afgelope 49 jaar tot ‘n gerekende landbouhandelskou ontwikkel. Tog sorg die boeregasvryheid, plattelandse atmosfeer en die hartlikheid van landbou en sy mense dat sowat 70 000 besoekers jaarliks hierheen stroom om te kom sake doen en om die vee-uitstallings, groot ysters, 4×4’s, boerepatente, eetgoed en plaasatmosfeer te kom geniet. ‘n Vervoerstelsel met ses doelgemaakte waentjies op drie roetes is ingestel om vir mense wat moeilik rondbeweeg, die terrein meer begaanbaar te maak.

Aangesien graanboerdery baie wetenskaplik is, ondersteun NAMPO 2015 produsente om hul produktiwiteit en winsgewendheid te verhoog ten einde volhoubare voedselsekerheid vir die land in die hand te werk. ‘n Redelike teenwoordigheid van sonkragenergie- en verwante produkte is ook by die Oesdag te sien, aangesien elektrisiteitsvoorsiening deesdae ‘n uitdaging in boerdery is.

“Dit is net die land se graanprodusente wat tussen beurtkrag en ‘beurtkos’ staan. As ons nie produsente het wat die risiko’s van die graanbedryf aanvat nie, gaan ons dieselfde situasie met kos as met elektrisiteit hê – te min kos vir Suid-Afrika. Daarom is Graan SA se NAMPO Oesdag ‘n belangrike beeldbougeleentheid om ‘n eenheidsgevoel oor landbou te help skep,” sê Jannie de Villiers, Graan SA se uitvoerende hoofbestuurder.

Hy sê die graanbedryf is ‘n onlosmaaklike deel van voedselsekerheid en dat die Nasie in Gesprek-paneelbespreking by NAMPO 2015 bydra tot die debat wat verseker dat die bedryf se volhoubaarheid in plek gehou kan word. Tydens NAMPO ontvang Graan SA ook talle plaaslike en buitelandse politici en beleidmakers as gaste ten einde landbou en sy mense eerstehands te kom ervaar. Aangesien verteenwoordigers van die hele graanwaardeketting NAMPO bywoon, is daar ruim geleentheid om te netwerk, met mekaar te kommunikeer en bande te versterk.

Die deelname van nagenoeg 60 internasionale uitstallers uit nege lande toon dat Graan SA se NAMPO Oesdag reg geposisioneer is om vir die ontluikende dinamiek van voedsel- en veselproduksie in Suidelike Afrika en selfs sub-Sahara Afrika ‘n doeltreffende skakelgeleentheid te bied.

“Besoek gerus die proefpersele van agt saadmaatskappye op die nuwe standplase aan die oostekant van die terrein. Dit is ‘n nuwe toevoeging tot die Oesdag wat produsente in staat stel om nie net hul saadverskaffer se uitstalling te besoek nie, maar om self ook die kultivars onder praktiese toestande te besigtig,” het Cobus van Coller, Oesdagvoorsitter, gesê.

Die veekomponent word aangevul met ‘n afslaerskompetisie in die Veilingskompleks in samewerking met Veeplaas en Toyota. Geskoei op die hoofdoel dat NAMPO deurlopend ‘n platform skep om inligting te bekom – selfs oor diversifikasie in boerdery – is die getal uitstallers gemik op die wildbedryf, hierdie jaar uitgebrei.

“Daar is hierdie jaar meer uitstallers van damesprodukte en die SAMPI-saal beloof dus om ‘n nuwe trekpleister vir die skoner geslag te wees,” aldus Van Coller. Ter uitbreiding van die akkommodasienetwerk wat effektief in die streek funksioneer, word ‘n tentehotel aan die suidekant van NAMPO Park opgerig. Dit bestaan uit 100 behoorlike twee-mantente met ablusiegeriewe – en ontbyt is ingesluit. Gaan gerus na www.nampo.co.za of www.harambee.com vir besprekings.

“Vir lede van Graan SA is die NAMPO Oesdag ‘n trotse gebeurtenis waaraan hulle deel het. Benewens die eksklusiewe parkering en gratis toegang, word ons lede ook as gaste by die ledelokaal ontvang. Graan SA se leierskap en personeel sien daarna uit om weer eens dié kontakgeleentheid met ons lede te geniet,” het De Villiers gesê. Hoewel die NAMPO Oesdag aan ‘n halfeeu raak, bly tegnologiese ontwikkeling geensins agter nie. ‘n Elektroniese toegangkaartjiestelsel deur TicketPro stel besoekers in staat om toegangskaartjies aanlyn en teen R10 goedkoper as by die hek te koop. Besoek www.ticketpro.co.za of www.nampo.co.za om jou kaartjies vooraf te bekom. ‘n NAMPO-toep (app) is pas ontwikkel en stel besoekers in staat om deur hul slimfoon of tablet produkinligting van deelnemende uitstallers te verkry. Gaan laai gerus die toep af by jou gunsteling aanlynwinkel.

Kaartjies kos R90 per persoon by die hekke op Dinsdag en Vrydag en R100 per persoon op Woensdag en Donderdag. Toegang vir voorskoolse kinders en parkering is gratis. Skakel gerus in op Graan SA Radio op 99.2 FM as jy naby kom vir verkeersverslae en aktuele Oesdaginligting. Die hekke open soggens om 07:00 en sluit smiddae om 17:00. Geen troeteldiere, fietse, karretjies of motorfietse word op die terrein toegelaat nie. Toegangsbeheer word op Maandag 11 Mei toegepas sodat uitstallers hul finale afronding kan doen.

‘n Terreinkaart, alfabetiese uitstallerslys, dagprogram en opsomming van verversingspunte is vervat in ‘n hanteerbare boekie, wat gratis beskikbaar is by die toegangshekke. Meer inligting en die dagprogram is ook aanlyn beskikbaar by www.nampo.co.za, www.grainsa.co.za of by nampo.mobi.

Exit mobile version