Local news

Sy familie en die gemeenskap was sy prestasie

Hy het soveel mense gehelp om hulle lewens te herbou en te verbeter.

As daar iemand was wat ‘n groot impak op die gemeenskap van Potchefstroom gehad het, was dit Tom Fuhri.

Tom is op 27 Desember 2024 in die intensiewesorgeenheid na ‘n dringende maar hoërisiko-operasie, oorlede. Die Potchefstroom gemeenskap het ‘n reus en legende verloor.

Medelye en stories van hoe Tom mense se lewens geraak het, het van oral af ingestroom.

Tom (75) is in Springs gebore en het in 1979 na Potchefstroom verhuis. Hy was vir 35 jaar met sy vrou, Hettie, getroud en die paartjie het twee dogters. Hettie is in 2008 oorlede.

Marian Fuhri, een van Tom se dogters, sê alhoewel sy en haar sussie, Melinda, Tom se enigste biologiese kinders is, het hy vele ander ‘aangenome’ kinders en kinders in die gemeenskap gehad.

“Hy het die woord aangenome gehaat omdat DNS nie vaderskap bepaal nie. Sy leuse was nog altyd: ‘Enige man kan ‘n pa word, maar nie enige man kan ‘n vader wees nie.’ Hy het ook nooit in kleur vasgekyk nie. Hy het altyd as kinders vir ons gesê almal se bloed is dieselfde kleur.”

Tom was die nasionale hoof-uitvoerende beampte van die Tweedehandse en Pand Raad en hy het vele grade in verskeie rigtings gehad. Grade waaroor hy nooit wou praat of ten toon gestel wou hê nie.

“Ek en my sussie was nooit toegelaat om enige van my pa se grade teen die muur op te hang nie. Dit mag nie geraam, geword het nie. Hy het altyd gesê niemand is benede hom nie. Niemand het nodig om te weet watter grade hy agter sy naam het nie. Hy wil nie iemand se vrymoedigheid wegvat deur titels nie, en mense hom moet aanspreek as dokter of professor nie. Hy wou net altyd hê mense moes hulself wees rondom hom,” vertel Marian.

Dit was volgens Tom se familie, sy grootste prestasie om die gemeenskap te kan dien, sy familie te beskerm en vir hulle te voorsien. Dit was vir hom die grootste eer om as pappa en oupa Tom in die gemeenskap bekend te staan.

“Hy het mense raad gegee, hulle ondersteun, vir hulle gebid en self ook wanneer hy kon, finansiële hulp gebied. Hy het soveel mense gehelp om hulle lewens te herbou en te verbeter.”

‘n Roudiens vir Tom sal Saterdag, 11 Januarie om 11:00 by AGS Suid, Maherrystraat, Miederpark gehou word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button