Help Kersvader om kinderhartjies bly te maak

Attie het die behoefte in die gemeenskap raakgesien.

Attie Kleinsmit het in 2016 soos Kersvader aangetrek en sy bakkie soos ‘n slee met kersliggies en versierings opgemaak om sy kleinkinders te verras. Min het hy geweet dat hierdie ‘n tradisie en ‘n nie-winsgewende organisasie sou word wat vandag steeds voortgaan om kindertjies te seën.

Lindie Kleinsmit vertel daardie dag in 2016 het haar pa die behoefte in die gemeenskap raakgesien.

“Kinders in die strate het hom ook gesien waar hy soos Kersvader aangetrek was en hy het lekkers gaan koop om vir die kindertjies uit te deel. Daar het die besef gekom hoe groot die behoefte is aan geskenkies deur die Kersgety,” het sy gesê.

Die jaar daarna het hy meer lekkers en ook speelgoed gekoop. Hy en sy gesin het die week voor Kersfees deur die strate gery en vir kinders geskenke uitgedeel.

“Die blydskap en opgewondenheid op die kinders gesiggies was so aansteeklik dat ons besluit het om dit elke jaar te doen en jaarliks groei die getalle net meer,” vertel Lindie.

Hulle het daarna besluit om ‘n nie-winsgewende organisasie te stig sodat hulle die gemeenskap kan betrek en so meer kinders kan blymaak.

“Ons het ook besluit om ‘n WhatsApp-groep te begin waar ons ‘n regstreekse ligging uitstuur sodat ouers ons roetes kan volg. Dit maak dit net soveel makliker want nie almal het altyd Facebook nie,” vertel sy.

Die span deel elke jaar die week voor Kersfees geskenke uit. Hierdie jaar sal dit vanaf die 17de tot die 21ste Desember plaasvind.

“Nie almal kan altyd iets bekostig oor die Kersgety nie en die blydskap op die kindergesiggies laat ‘n mens altyd besef hoe bevoorreg ons is om die gesiggies op te kan helder.”

Enigeiemand wat die projek wil ondersteun met ‘n donasie of op die WhatsApp-groep wil wees, kan vir Lindie by 076 620 9010 kontak.

Daar is ook aflaaipunte by Spur Albuquerque, Die Akker en Daly Ford.

 

Exit mobile version