Local news

Eerste gratis padel-toernooi in Potch

Twee Potchefstromers, Willem Cloete en Armand Grobbelaar, is as wenners by die padel-toernooi bekroon. Hulle het na ‘n senutergende finale wedstryd eindelik met 6-2 gewen. 

Sowat 200 deelnemers het op 9 Oktober 2024 vanaf 16:00 die middag tot laat gratis padel gespeel en teen mekaar gekompeteer op Padel Circle se bane.

Twee Potchefstromers, Willem Cloete en Armand Grobbelaar, is as wenners by die padel-toernooi bekroon. Hulle het na ‘n senutergende finale wedstryd eindelik met 6-2 gewen.

Afriforum Jeug se Potch-tak het die dorp se eerste gratis padel byeenkoms aangebied. Studente en jongwerkendes is genooi om in te skryf vir die toernooi se kompetisie en vryespel afdelings.

Spelers het tot en met 19:00 die vryespel padel geniet, waarna die wedstryde stiptelik om 19:30 afgeskop het. ‘n Reeks rondtes is op die vier padelbane vir die uitdunne en semifinale wedstryde gespeel. Uit die groot hoeveelheid deelnemers is Cloete en Grobbelaar eindelik as ‘n span na die eindstryd deur.

Die finale wedstryd het eers gelykop geëindig, en albei spanne is twee ekstra diene gegun om die toernooi se wenners te bepaal. Die blywende toeskouers het onder die spreiligte vir Cloete en Grobbelaar toegejuig nadat hulle die finale uitkloprondte oorwin het.

Yvonne Gerber, jeugbeampte vir Ontwikkeling by AfriForum Jeug, vertel dat die padel-toernooi AfriForum Jeug se poging is om ‘n veilige omgewing te skep waar studente sosiaal kan verkeer.

“Ons beplan om volgende jaar nog baie soortgelyke padel-toernooie aan te bied,” sê Gerber.

AfriForum Jeug het die wenners van hulle gratis padel-toernooi met ‘n R250 koopbewys by Oukraal restaurant en twee splinternuwe AfriForum Jeug Puk-hoedjies beloon. Die tweede plek het ‘n R200 koopbewys by Oukraal gekry en die derde plek ‘n R100 koopbewys.

JC van Pletzen is die eienaar van Padel Circle wat sowat drie maande gelede in Van der Hoffpark geopen het. Hy vertel dat hulle sonder twyfel in die toekoms graag meer sulke geleenthede sal wil hou.

“Ons nuwe bestuurder gaan ‘n klomp inisiatiewe loods om die studente en gemeenskap meer betrokke te maak,” sê Van Pletzen.

Studente neem reeds gereeld deel aan Padel Circle se weeklikse kompetisies wat op Vrydae-oggende aangebied word. Talle maatskappye wil ook hierso padel speel vir hulle jaareindfunksies.

Van Pletzen vertel dat hy Padel Circle begin het aangesien padel ‘n spel is wat almal kan geniet en dit nie soveel vaardighede soos tennis vereis nie. Hy noem ook dat sy klub Maandae- en Dinsdae-aande onderskeidelik mans en vrouens “Americano” padel-wedstryde aanbied.

Carmen Reid, Ondervoorsitter van die AfriForum Jeug Potch-tak, sê dat hierdie burgerregte-organisasie in die proses is om ‘n Puk-bestuur in Potchefstroom te vestig. AfriForum Jeug het herstrukturering ondergaan en die padel-toernooi was hulle eerste aksie vir die jaar.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button