Local news

Gru-ongeluk verander jong man se lewe

Ben en Ruan is al van kindsbeen af beste vriende.

‘n Ongeluk wat in die oggendure van 17 Maart tussen Potchefstroom en Stilfontein plaasgevind het, het een jong man se lewe onherroeplik verander.

Ses mense, waarvan vier jong mans en twee vroue is, is in die ongeluk beseer. ‘n Sewende persoon, ‘n man, is na die ongeluk in die hospitaal oorlede.

Volgens ‘n ooggetuie het die drywer van die bakkie, wat glo besope was, sonder enige ligte oor die Buffelsfontein-kruising op die N12 gery. Die twee vroue was insittendes van die bakkie.

In die Haval was Jarno Els, wat die motor bestuur het. Ben Prinsloo het links voor gesit, Ruan Gagiano het links agter gesit en Rico le Roux het regs agter gesit. Die ongeluk het omstreeks 02:15 daardie oggend gebeur. Rico het sy arm tydens die ongeluk gebreek en het beserings aan sy gesig opgedoen. Ruan het sy hand tydens die ongeluk gebreek, ‘n sny aan sy kop opgedoen en sy rug en heup beseer. Jarno het sy been gebreek.

Ongelukkig het Ben die ergste beserings tydens die ongeluk opgedoen. Ben se nek is beseer, hy het ‘n skedelbreek opgedoen asook bloeding op die brein, sy heup het seergekry, sy femur is gebreek en hy het breinskade opgedoen.

Ben en Ruan, wat albei vir Hoër Volkskool rugby gespeel het, is al van kleuterdae af groot vriende en as dit nie vir Ruan was nie, was Ben dalk nie uit die wrak gered nie.

Dit is Ruan wat geweier het om sonder sy vriend in ‘n ambulans te klim. Noodpersoneel het glo nie nog ‘n persoon in die voertuig raakgesien nie, maar Ruan het aangehou dat sy vriend nog in die motor is en leef.

Noodpersoneel moes Ben op ‘n onmoontlike plek uit die voertuig red nadat hy weens die impak onder deur die paneelbord is. Na twee ure is Ben van die wrak bevry en hy en Ruan is saam hospitaal toe geneem.

Ben was vir drie weke in ‘n koma. In daardie tyd het hy in die hospitaal ‘n infeksie opgedoen. Dokters het vir sy ma gesê hy gaan dit nie maak nie. Vriende, familie, Volkies en inwoners van Potchefstroom het vir 48 uur vir sy herstel gebid. Alhoewel Ben se gesondheid baie verbeter het, het hy einde Mei ‘n beroerte gehad. Ben is vandag nog in ‘n rolstoel by ‘n rehabilitasiesentrum.

Asof die tragedie nie erg genoeg vir die gesin was nie, kon hulle ook geen vreugde uit die saak put nie omdat die hantering van die saak glo deur die polisie nie reg gedoen was nie. Die families is glo tussen polisiestasies rondgestuur nadat hulle uitgevind het dat Ben nie op die dossier is nie. Volgens die dossier was hy nie eers betrokke by die ongeluk nie. Dit het beteken dat die gesin nie ‘n derdeparty eis kan indien nie.

Beeldmateriaal van die ongeluk het glo net weggeraak of daar was verskonings van beurtkrag aan die families gegee. Volgens die gesinne is geen saak oopgemaak nie en niemand word vervolg nie.

Die ouers van die seuns voel daar het baie onnodige stories oor die seuns die stad vol rondgegaan en as gevolg van geen terugvoer van die polisie af nie, kon hulle nooit rustigheid oor die saak kry nie.

Kolonel Adele Myburg, polisiewoordvoerder, sê ‘n saak van strafbare manslag word ondersoek nadat die bestuurder van die bakkie oorlede is. Voor sy dood was ‘n saak van roekelose en nalatige bestuur ondersoek.

“In hierdie geval, soos met baie ander gevalle, is die toneel in chaos soos wat lewensredders mense se lewens probeer red. Almal insluitende die polisie se eerste prioroteit is om mense se lewens te red. Wanneer iemand nie meer op die toneel is nie, is dit moeilik om te weet wie almal betrokke was”

Volgens Myburgh, kan die ouers steeds gaan rapporteer dat hulle kinders in die ongeluk betrokke was maak nie saak hoe lank gelede dit gebeur het nie.

“Die saak is nog oop en word ondersoek. Die ouers of die insittendes kan self rapporteer dat hulle in die ongeluk betrokke was. Baie van die mense het baie ernstig seergekry en mens kan verstaan as dit nie onmidellik gedoen kan word nie. Dit maak nie saak hoe lank na die tyd dit is nie, dit kan gerapporteer word.”

Myburg het aangebied om die gesin te kontak en hulle te help om die insident te rapporteer.

“Ons wil net alle eer aan die Here gee vir Ben wat steeds leef en elke dag bietjie-bietjie herstel. Dit nadat verskeie dokters gesê het hy gaan dit nie maak nie. Selfs na sy beroerte sterk hy aan. Ben is God se wonderwerk,” vertel Bernice Prinsloo, Ben se ma.

Die gesin sukkel tans met astronomiese mediese rekeninge van Ben se behandeling. Ben moet ook nog ‘n operasie ondergaan waar ‘n gedeelte van sy skedel teruggeplaas moet word.

Indien jy enige bydra wil maak om te help, kan jy vir Bernice by 072 667 8599 skakel of ‘n bydra maak by die Backabuddy hier: https://www.backabuddy.co.za/campaign/ben-prinsloo~2

Ben en Ruan.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button