Potchefstroom Mannekoor ondergaan herlewing

Mannekoor weer volstoom aan die gang

Daar’s vreugde in ons dorp; die Mannekoor is weer volstoom aan die gang met die ”Sprokie vir die Siel” program . Na Babs Brouwer se aftrede het dinge stadig beweeg maar met die toetrede van die nuwe koorleier, Hilde Roos, het daar nuwe vuur gekom. Sy kon bou op die ryk tradisie van die vorige 40 jaar onder Babs en werk hard om haar nuwe benadering te vestig.

Dit was ‘n voorreg om die eerste konsert in die SNOWFLAKE se ou meule, met die puik akoustiek, te gebruik. Dis selfs beter as om in ‘n museum op te tree want die bestaande installerings is so keurig aangevul met outentieke oudhede en smaakvolle dekor wat die oog vang.

Die program is gebasseer op musiek van Koos Du Plessis, Boerneef en Coenie de Villiers. Ou gunstelinge soos Kinders van die Wind, Voshaarnooi en Namakwaland is keurig aangebied. Die hamonieuse koorstukke is aangevul met die besondere talent van die sopraan Lara Badenhorst met haar klokhelder stem, klawerbord begeleiding deur Harriet van Rooyen, vioolspel deur Nick Barkhuizen en Janis vd Merwe se Franse horing spel

Hoogtepunte van die konsert was gewis Lara met onder meer “Die Berggans Het ‘n Veer Laat Val” en duette met Petrus v Rooyen. Dan veral Koos se “Skielik is jy vry” ook met Geestelike woorde asook “Op My Ou Ramkiekie”met verskeie deelnemers; “Groen Koringlande” met die Franse Horing met deskant wat spontaan uit die tenoorgroep gevolg het, was besonder gewild.

Voorlesings om komponiste bekend te stel en die lees van poësie van koorlede het besonder byval gevind en die program versterk..

In die geheel ‘n hoogs geslaagde debuut konsert wat die Mannekoor se naam weer eens geliefd gemaak het.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version