Local news

51 Nuwe bome vir Potchefstroom

Rooting For Potch dryf die aanplant van inheems bo uitheemse bome om Suid Afrika se unieke plantspesies te bewaar.

Rooting For Potch tesame met verskeie borge het Vrydag, 20 September hul jaarlikse Boomplantdag gehou.

Families en besighede het die geleentheid bygewoon en die kans aangegryp om ‘n boom te plant. Die spanne het altesaam 51 inheemse bome by Cachet Park geplant.

Christoff Müller, wat die projek gedryf het, sê hulle hoop om hierdie ‘n jaarlikse instelling te maak en beoog om dit na ander plekke in Potchefstroom te versprei.

“Ek het die projek saam met my vrou, Izelle, begin reël. Verder het Dieter en Riandi van Rensburg gehelp met die bemarking en betalings. Daar het verskeie individue en maatskappye ingekoop; van hulle het geborg en kon nie bywoon nie, en ander het as spanne die dag bygewoon en gehelp plant.”

Christoff vertel die doel van die dag was om groenigheid in Potch te vestig, wat goed is vir die stedelike ekologie, lug en algehele gevoel wat ‘n mens in die dorp ervaar. Potch het baie inisiatiewe, waarvan hierdie een is. Dit gee vir individue en maatskappye ‘n geleentheid om in gemeenskappe, spanne en die omgewing te belê.

Die dag is gedoop Rooting For Potch met die slagspreuk Growing ourselves, our town, our world, wat daarop dui dat ‘n mens van binne af ‘n verskil maak wat versprei na die dorp en ook na die wêreld.

“Hierdie verskil is iewers gewortel, en in hierdie geval is dit in Potch,” vertel Christoff verder.

“Die mooi lê daarin dat ons nie weet waarvandaan die CO2-molekuul kom wat die boom opneem, of waarheen die suurstofmolekuul gaan wat vrygestel word deur die boom nie. Vir al wat ons weet, kom die CO2-molekuul van Egipte af, en iemand in Suid-Amerika asem weer die O2-molekuul in. Dis die mooi gedagte dat hierdie aksie die wêreld beïnvloed, en dit kom van ‘n klein interne besluit en aksie van ‘n gemeenskap af. Dit is ‘n nederige aksie en dis nie te sê dat jy ooit daarby sal baat as individu nie, maar jy weet iemand in die wêreld doen.”

Rooting For Potch dryf die aanplant van inheems bo uitheemse bome om Suid Afrika se unieke plantspesies te bewaar en mense bewus te maak van die mooi rykdom van plantegroei wat ons in Suid Afrika besit.

You can read the full story on our App. Download it here.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button