Van rolstoel tot wêreldkampioen

Vicky Scheepers se getuienis van haar lewe is een wat jou lewe sal verander. Gebore in Witbank, het Vicky daar grootgeword en in 1995 gematrikuleer. Sy het in 1996 by die weermag aangesluit nadat sy van haar kinderdae daaroor gedroom het. “Ek het as kind die fliek Private Benjamin gekyk en besluit ek gaan weermag …

Vicky Scheepers se getuienis van haar lewe is een wat jou lewe sal verander.

Gebore in Witbank, het Vicky daar grootgeword en in 1995 gematrikuleer. Sy het in 1996 by die weermag aangesluit nadat sy van haar kinderdae daaroor gedroom het.

“Ek het as kind die fliek Private Benjamin gekyk en besluit ek gaan weermag toe. Ek onthou nog goed hoe ek in 1996 met my rokkie opgedaag het.”

Mens moet alles doen met ‘n passie, gesels sy.

“Ek wou nog altyd vir die wêreld wys dat ‘n vrou ‘n leier kan wees, al het sy ‘n rok aan.”

Vicky het van daar af haar lewe tot die uiterste geleef. Sy het elke geleentheid wat sy kon, aangegryp. Van sport kon jy haar niks vertel nie. Sy het aan alle sportsoorte deelgeneem.

“Elke geleentheid was ‘n uitnodiging van Jesus om ‘n kans te vat en te probeer.”

Sy vertel nadat sy die rang van kolonel bereik het, het sy aansoek gedoen om spyseniering te gaan doen. Sy pak toe haar tasse om in Pretoria die kursus te gaan voltooi.

“Gedurende hierdie tyd het ek ook ‘n physical trainer instructor (PTI) geword. Ek was die eerste dame in SA wat ‘n PTI geword het,” vertel sy.

Sy vorder tot hoof van Spyseniering van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) in die Oos-Kaap. Nie lank daarna nie het sy vir die MTN Gladiators wat destyds op TV uitgesaai is, ingeskryf.

“Ek het Gladiators as ‘n sjef vir SANW gewen. Daarna is ek terug Port Elizabeth toe waar ek kaptein geword het.”

Vicky het een naweek afgehad en het daarna uitgesien om by haar vriende te gaan kuier. ‘n Kuier wat haar lewe in sekondes sou verander.

“Dit was my ma se verjaarsdag. Ek was op pad Cradock toe en was opgewonde om my vriende te sien. Dit het gereën, en ek het by ‘n vulstasie afgetrek om my ma te bel om haar geluk te wens. Toe ek weer terug op die pad kom het ‘n besope man aan die verkeerde kant van die pad gery en my motor reg van voor getref.”

Binne oomblikke is haar voorkoms, haar loopbaan en haar liggaam van haar weggeneem deur die tragiese ongeluk. Vicky moes met die kake van die lewe uit die wrak gehaal word. Sy het skedelbreuk en ‘n gebreekte kakebeen gehad. Al haar ribbes en haar heup was gebreek, en het sy al haar tande as gevolg van die ongeluk verloor. Sy is in ‘n kritieke toestand by Green Acres in Port Elizabeth opgeneem waar sy aan masjiene gekoppel was.

“Die mediese personeel het vir my broer, Rudi, gesê daar is geen hoop nie, en die masjiene moet afgeskakel word. Hy het hulle gevra om net nog een aand die masjiene aan te hou. Dit is gedurende daardie nag wat ek op my eie begin asem haal het. Jesus het daardie een aand, daardie een oomblik gebruik om my aan te raak.”

Vicky is daarna met ‘n mediese helikopter na die Pretoria Militêre hospitaal geneem waar sy drie maande in ‘n koma was.

“In November 2002 word ek wakker met die liedjie I’m alive van Celine Dion. Ek kon nie praat nie. Ek kon nie loop nie. Ek het 38kg geweeg en geen tande gehad nie. Ek het selfs my 25ste verjaardag gemis terwyl ek in die koma was, en oral op my lyf bedsere gehad”

Nadat sy wakker geword het, moes sy gebad word. Tydens die bad het die verpleegsusters haar laat val en breek sy haar stuitjie.

“Ek kon nie eet nie en hoor toe duidelik God se stem wat vir my sê: Dit is juis in hierdie tyd wat ek in Hom moet glo. Die lewe gaan aan. Mense gaan aan. Niks stop omdat mens seerkry nie.”

Soos wat die tyd aangestap het, het Vicky van voor af geleer eet en skryf. Sy begin met tyd haar geheue herwin, maar was vasgevang in ‘n rolstoel.

“My fisio en biokinetikus sê toe vir my ons gaan ‘n plan maak, net soos wat die Here ook vir jou sê ons gaan ‘n plan maak. Ek gaan met my rolstoel rehab toe en net daar sê die Here vir my om op te staan. Ek het opgestaan en my eerste tree gegee. Ek het wel geval, maar die Here sê ons sal val en ons sal weer opstaan ook.”

Vicky het begin loop met ‘n waggel in haar stap omdat haar bene na die ongeluk 2.8cm verskil. Sy kry ‘n tandvleis oorplanting sodat hulle vir haar valstande kon insit, en sy word uiteindelik ontslaan. Kort voor lank is sy weer terug by die weermag, maar haar bevelvoerder voel nie sy is meer opgewasse vir haar take nie.

Na vier verskillende sielkundige toetse word daar bevind daar is niks fout met Vicky nie, en sy word Oudtshoorn toe verplaas.

“Met tyd begin ek myself weer vind. Iemand sê vir my ek moet begin fietsry. Ek huil en die Here hoor my trane. Iemand leen vir my ‘n fiets en fietsryklere en ek begin fiets ry. Where God guides, He provides.

En toe skryf iemand haar in vir die SA kampioenskappe in 2013 waar sy weens haar liggaamlike gebreke geklassifiseer word as ‘n C4 atleet. Sy doen ‘n 24km tydtoets en ‘n 80km padren en verwerf nasionale kleure in fietsry, maar kon nie aan die vereistes vir internasionale deelname voldoen nie.

Vasberade om almal in 2014 te wys wat sy kan doen, begin sy elke dag oefen.

“Ek het elke oggend vier ure geoefen, en elke aand agt ure lank.”

Haar harde werk het vrugte afgewerp en kon sy in 2014 in Durban gaan deelneem waar sy ‘n internasionale tydrekord opstel.

Vicky kry dit dié keer reg om haar land in Spanje by die wêreldkampioenskappe te gaan verteenwoordig waar sy skitter met ‘n sewende plek.

Daarna oefen sy meer en harder en neem weer in 2015 deel. Sy word dié keer as vierde in die wêreld aangewys. Dit nog met ‘n skoen wat met hout opgebou is.

“My stukke het my nooit teruggehou. Ek het projekbestuur gaan studeer en Cum Laude geslaag. Ek is tot luitenant kolonel bevorder, en toe bedank ek uit die weermag om voltyds fiets te ry.”

Vicky het voortgegaan om die wêreldkampioenskap te wen en is eerste in die wêreld aangewys.

“Ek het my fiets neergesit en toer nou die hele land deur om my storie van hoop aan ander te vertel. Ek maak nou ‘n verskil in ander se lewens. Die Here sê: “Jou seer is my deur.”

Indien jy wil hê Vicky moet haar getuienis by jou skool, kerk of organisasie kom deel, kan jy haar by 084 735 5000 skakel of by vdscheepers@gmail.com epos.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version