PAWS maak oumense se harte bly

Die hondjies geniet dit ook baie.

Dit is net die liefde van ‘n troeteldier wat mens se dag heeltemal kan omdraai en mens in ‘n goeie bui laat.

Daar is min dinge so spesiaal soos die band tussen ‘n mens en ‘n hond. G’n wonder ons sê ‘n hond is ‘n man se beste vriend nie.

Vir PAWS (Potch Animal Welfare Society) is daar ook min dinge so bevredigend soos om die trane van vreugde te sien en te aanskou hoe bejaardes se gesigte ophelder wanneer een van hulle hondjies by die ouetehuis instap nie.

Hanlie Jooste van PAWS sê hulle vat elke Woensdag ‘n hondjie of twee om vir die inwoners by Samuel Broadbent House te gaan kuier.

“Dit is so goed vir die honde en die oumense. Die honde kom bietjie uit en dit leer hulle om met mense interaksie te hê. Dit is ook vreeslik lekker vir die bejaardes. Die honde laat hulle aan hulle eie troeteldiere dink. Sommige van hulle dink dit is hulle eie troeteldier wat hulle gehad het.”

Hanlie gaan voort om te sê baie oumense wat na ouetehuise gaan word van hulle diere geskei. Hulle is dan heeltemal alleen in die ouetehuis. Sonder familie of hulle geliefde troeteldier.

“Dit is baie moeilik om te beskryf, maar dit maak mens so bly, maar tog ook so hartseer om te sien hoe die mense huil as hulle die hondjies vashou. Ons gaan gewoonlik in die middag wanneer dit teetyd is. Hulle lyk soms bedruk, totdat die hondjie instap, dan helder hulle gesigte op.”

Hanlie verduidelik ook dat hulle honde so gesien word en dan aangeneem word. Een van hulle honde, Bella, wat laasweek by die ouetehuis gekuier het, is deur mense op Facebook raakgesien en aangeneem.

Exit mobile version