Misdaad teen vroue en kinders styg

Al drie kategorieë misdaad teenoor vroue en kinders het toegeneem teenoor die ooreenstemmende tyd verlede jaar.

Terwyl ʼn effense afplatting in misdaad luidens die polisie se jongste statistiek verwelkom word, bly toenemende ernstige misdaad teen vroue en kinders en plaasmoord steeds ʼn ernstige probleem.

In die eerste kwartaal van die 2024/25-finansiële jaar het al drie kategorieë misdaad teenoor vroue en kinders toegeneem teenoor die ooreenstemmende tyd verlede jaar.

Moord op vroue is op vanaf 895 moorde tot 966 (71 meer), poging tot moord is op vanaf 1 417 tot 1 644 (227 meer) en ernstige aanranding van 12 872 tot 13 757 (885 meer).

Wat kinders aanbetref, het moord toegeneem van 293 tot 314 (21 meer), poging tot moord van 354 tot 424 (70 meer) en ernstige aanranding van 1 432 tot 1 596 (164 meer).

“Hierdie syfers is vir die VF Plus uiters kommerwekkend gegewe die bewusmakingspogings van verskeie rolspelers; van regeringskant tot die burgerlike samelewing, om vroue en kinders te beskerm,” het Heloïse Denner, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder, Vrydag in ‘n verklaring gesê.

Heloïse verduidelik dit is duidelik dat veral die inisiatiewe van die regering, soos die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders, geen werklik impak het nie en dat alle rolspelers sal moet herbesin oor hoe om hierdie euwel te pak.

“Dit is ʼn ernstige aanklag teen ʼn gemeenskap en ʼn regering as vroue en kinders op ʼn skaal soos hierdie vermoor en aangerand word.”

Wat plaasmoord aanbetref, is 9 moorde aangemeld. Vier hiervan is boere en vyf werkers en hul gaste. Die VF Plus veg al vir jare om plaasaanvalle en -moorde tot ʼn prioriteitsmisdaad te laat verklaar en sal nie sy pogings hieroor laat vaar nie.

“Ander misdaad, van moord tot roof en diefstal, het afgeplat en in baie gevalle is daar ’n welkome afname. Suid-Afrika se misdaadvlakke, veral wat geweldsmisdaad aanbetref, is egter só hoog dat daar nie ʼn valse gerustheid mag ontstaan nie.

“Moord is in die tydperk van drie maande byvoorbeeld af vanaf 6 228 tot 6 198. Die realiteit is steeds dat dit bykans 70 moorde per dag is. Dit is bloot skokkend vergeleke met die res van die wêreld.”

Ander noemenswaardige misdade wat grootliks afgeneem het, is die sogenaamde trio-misdade. Motorkaping is af met 0,9%, rooftogte by woonhuise is op met 0,2% en rooftogte elders is af met 8,6%.

Verkragting is op met 0,4% maar algemene seksoortredings is af met 10,5%. Transitorooftogte, bankroof en vragmotorkapings is saam af met 14%.

Wat eiendomsmisdaad aanbetref, is daar ʼn algehele afname in inbraak en diefstal by woonhuise (7,4%), elders (11,5%), diefstal van motors en motorfietse (5,2%) en diefstal uit motors (3,6%).

“Die VF Plus is bewus daarvan dat misdaad in baie gevalle in noue verband staan met die ekonomie en die gevolge van werkloosheid en armoede.

:Die vroeë tekens van ʼn ekonomiese oplewing onder die nuwe regering van nasionale eenheid (RNE) is daarom welkom en bring na dekades van deurlopende aftakeling onder die ANC weer ʼn sprankie hoop vir die toekoms,” het Heloïse voortgegaan.

Exit mobile version