Kleuter deur honde doodgebyt

Die seun het moontlik die honde geterg.

‘n Vyfjarige seun van Orkney is Maandag 19 Augustus deur honde doodgebyt nadat hy glo van ‘n muur af in die bure se erf geval het.

Adj-off. Elize van Schalkwyk, polisiewoordvoerder, sê die seun het glo op ‘n betonmuur gesit toe hy oor die muur in die bure se erf geval het.

“Die honde het die seun aan sy keel beetgekry en hom doodgebyt. Die seun was in sy ouer broer se toesig toe die voorval gebeur het en die seun is na die aanval na die kliniek gejaag.”

Die seun is met sy aankoms by die kliniek dood verklaar. ‘n Geregtelike doodsondersoek het na die voorval begin. Daar word vermoed die seun het die honde getart.

Die seun se ouers was albei by die werk toe die voorval plaasgevind het.

Marlene Stroebel het op Facebook gesê: “Hierdie is so hartseer. Kinders klim en klouter. Ons het self bure met klein kinders en moes al vir die mamma paar keer vra dat die seuntjies asseblief nie op die muur moet klim en ons honde terg nie, want dit gebeur gereeld. Kinders besef nie die gevaar nie.”

“Hoe verwag ouers dat ‘n kind na ‘n kind moet kyk? Dit is nie ‘n boetie of sussie se werk om na die jonger boetie of sussie te kyk nie,” het Pieter Claassens op sosiale media gesê.

Sonja Van Rooyen voel weer niemand verdien om deur so iets te gaan nie. “Ongeag die omstandighede, niemand verdien om ‘n kind aan die dood af staan nie,” het sy op Facebook gesê.

Exit mobile version