Lewenslank vir verkragting van 9-jarige broerskind

Die beskuldigde en die slagoffer is familie van mekaar.

‘n 33-jarige man is deur die streekshof in Potchefstroom tot lewenslange tronkstraf gevonnis op een aanklag van ontvoering en twee aanklagte van verkragting van sy 9-jarige broerskind.

Die voorval het glo op 27 Julie 2020 plaasgevind.

Sivenathi Gunya, polisiewoordvoerder, sê die slagoffer was nege jaar oud toe die insident gebeur het. Die beskuldigde en slagoffer is familie van mekaar. Die beskuldigde is die slagoffer se oom.

“Daar word beweer dat die beskuldigde probeer het om die slagoffer weg te lok van waar sy met haar broer gespeel het, maar sy het geweier. Hy het haar toe met geweld gevat en later naby die dam in uitbreiding 6 in Ikageng verkrag. Mense het na die kind gaan soek en haar by die beskuldigde gekry nadat hulle gehoor het dat haar oom haar met geweld verwyder het van waar sy gespeel het.”

Die kind het vir ‘n getuie vertel wat gebeur het en die beskuldigde is daarna op dieselfde dag in hegtenis geneem.

Die beskuldigde het eers onskuldig gepleit, maar later, na die getuienis van die slagoffer en die DNS-verslag beskikbaar gemaak is, het die beskuldigde formele erkenning gemaak.

Staatsaanklaer Hester Pretorius het tydens die hofverrigtinge gevra dat die beskuldigde swaar gestraf moet word, aangesien hy die regte van die jong meisie geskend het.

“Die beskuldigde was veronderstel was om sy broerskind te beskerm, maar het  haar eerder seksueel aangerand en haar waardigheid en haar vertroue weggeneem.”

Exit mobile version