Skeidsregter-krisis op die horison?

As daar nie meer skeidsregters is nie, is daar nie meer rugby wedstryde om te geniet nie.

Die hoeveelheid ervare beskikbare skeidsregters, gedrag teenoor skeidsregters en die blote volume van wedstryde wat deur die jaar gespeel word. Dít is alles faktore wat tot ‘n skeidsregter-krisis in die Noordwes kan lei. Volgens Johann Steyn, voorsitter van die Luiperds se skeidsregtersvereniging, word daar ongelooflik baie rugby in die provinsie gespeel.

“Daar word min of meer tussen 70 en 130 wedstryde oor ‘n naweek in die Noordwes gespeel. Ons het 51 aktiewe skeidsregters, waarvan daar net helfte van hulle oor ‘n naweek beskikbaar is. Ons skeidsregters blaas gewoonlik gemiddeld drie wedstryde elke naweek,” het Steyn gesê.

Ten tyde van die onderhoud met Steyn, vroeg in Julie, was daar reeds 1066 wedstryde sedert die begin van die seisoen in die provinsie gespeel.

Dít gekoppel met die feit dat meeste skeidsregters in die Noordwes gewoonlik studente is wat die provinsie na drie of vier jaar verlaat, vererger die probleem.

“Dit vat een tot drie jaar om ‘n goeie skeidsregter te word. Ons het drie paneel-skeidsregters in een jaar verloor. Dit is senior skeidsregters wat nie dadelik vervang kan word nie. Jy kan nie ‘n junior skeidsregter die verantwoordelikheid gee om ‘n groot klub of skool se eerste span wedstryd te blaas nie,” verduidelik Steyn.

Die behandeling wat skeidsregters van die skare en soms selfs van spelers en afrigters ontvang ontmoedig ook baie kandidate om nie aan te gaan nie. Die Oostelike provinsie se skeidsregtersvereniging het onlangs in ‘n verklaring gesê dat dit nie meer skeidsregters vir skole se wedstryde sal aanstel nie. Dit kom na ‘n skeidsregter glo deur ‘n speler aangerand is.

“Ouens tel probleme by ‘n klub of ‘n skool op en dan wil hulle ook nie meer daar blaas nie. Ons moet onthou die skeidsregters kry nie baie geld vir wat hulle doen nie. Dit is nie hulle werk nie,” verduidelik Steyn.

Mervyn Taylor, president van die Luiperds se rugby-unie, het ‘n beroep op ondersteuners, spelers en afrigters gedoen om skeidsregters met respek te behandel.

“Ons kan nie toelaat dat skeidsregters wat optree vir die liefde van die saak geteister, aangeval of aangerand word nie. Die unie bedank die skeidsregters wat by al die wedstryde in die provinsie uitkom. Ons weet dit is ‘n moeilike taak. Die unie sal ook teen klubs en skole wat hulself skuldig maak aan die slegte behandeling van skeidsregters optree,” het Taylor gesê.

Drikus Viljoen is deel van die Luiperds se skeidsregtersvereniging en ook die voorsitter van Potch Dorp rugbyklub. Volgens hom is skeidsregters dikwels onder geweldige druk tydens wedstryde.

“Hulle moet vinnige besluite neem in intense situasies, en hierdie besluite kan die uitslag van ‘n wedstryd beïnvloed. Dit is belangrik dat skeidsregters die ondersteuning en opleiding kry wat hulle nodig het om hierdie druk te hanteer. Ons glo dat die huidige opleiding van skeidsregters verbeter kan word. Daar moet meer gefokus word op die ontwikkeling van skeidsregters deur uitgebreide opleidingsprogramme. Hierdie programme moet daarop gemik wees om skeidsregters nie net die reëls van die spel te leer nie, maar ook om hulle ‘n dieper begrip van die spel te gee. Dit is belangrik dat skeidsregters die spel vanuit die perspektief van die spelers en afrigters verstaan,” het Viljoen gesê.

Volgens Steyn word skeidsregters nie sommer net in die diep kant ingegooi nie.

“Daar is kursusse wat ons aanbied, jy sal eers bietjie as ‘n lynregter ingespan word voor jy self ‘n wedstryd blaas. Mense wat belangstel om skeidsregters te word kan vir Steyn Visser op 084 667 6466 kontak. Of mense kan ons webtuiste besoek www.leopardreferee.co.za vir meer inligting,” het Steyn gesê.

Exit mobile version