Bejaarde man oorlede tydens aanval

Die slagoffer is deur die verdagtes oorrompel en so aangerand dat hy oorlede is.

Chris Bossert (65) is Woensdag by sy huis in Elandsheuwel, Klerksdorp, deur drie verdagtes oorrompel en erg aangerand.

Lieutenant-Kolonel Amanda Funani, polisiewoordvoerder, sê die verdagtes het voorgegee hulle soek werk.

“Drie verdagtes, twee vroue en ‘n man, het by die slagoffer se huis opgedaag en gemaak of hulle werk soek. Hulle het die slagoffer, wat alleen gebly het, na bewering oorval en met ‘n onbekende voorwerp aangerand.”

Volgens Funani het nog vier verdagtes toe die huis betree en geplunder. Verskeie huishoudelike items is gesteel voordat hulle van die toneel gevlug het.

“Die gemeenskap het die polisie ontbied en die polisie het die man dood aangetref.”

Twee verdagtes is Donderdag in hegtenis geneem nadat hulle glo van die gesteelde items by die taxistaanplek probeer verkoop het. Hulle het na bewering die polisie na die ander verdagtes gelei wat ook in hegtenis geneem is.

Die slagoffer se vuurwapen is glo tydens die ondersoek by die verdagtes gekry.

Al sewe verdagtes sal vandag op aanklagte van moord en die besit van vermoedelik gesteelde eiendom, wat ‘n vuurwapen insluit, in die Klerksdorp-landdroshof verskyn.

 

Exit mobile version