Gesukkel om leerlinglisensies in Potch te skryf

Daar is verwarring onder mense wat hulle leerlinglisensies wil skryf, maar nie afsprake kan kry nie.

Verskeie mense sukkel al ‘n geruime tyd om ‘n afspraak te kry om hulle leerlinglisensie te skryf.

Sommige mense sê dit word slegs op afspraak gedoen, terwyl ander sê ‘n persoon moet net in die oggend gaan en in die ry vir jou beurt wag. Daar word ook glo net ‘n sekere aantal mense per dag gehelp.

Jay-Dee Kruger, ‘n leerder wat al vir die vierde keer probeer om ‘n afspraak te kry, sê hy kom net nie reg nie. “Die aanlyndiens vir Potchefstroom werk nie en wanneer jy ingaan om ‘n afspraak te maak, word daar vir jou gese jy moet net opdaag op die dag wat jy die toets wil skryf. Dan wanneer jy opdaag vir die toets, word daar gesê hulle werk net op afspraak,” verduidelik Kruger.

Drie ander persone het ook al verskeie kere probeer om afsprake te kry.

Navraag is Maandag by die munisipaliteit gedoen, maar ten tyde van publikasie is nog geen terugvoering ontvang nie.

Exit mobile version