‘n Droom in sy hart en passie in sy stap

Na vele negatiewe kommentaar, is Jay-Dee net meer gemotiveerd om harder te werk en nuwe hoogtes in dans te bereik.

Jay-Dee Kruger (18) dans al vandat hy baie klein is en droom om eendag ‘n bekende choreograaf te word.

Gebore en grootgeword in Krugersdorp, het hy in 2020, net voor die pandemie, na Potchefstroom verhuis.

Hy het in die laerskool by ‘n dansgroep aangesluit en so elke jaar gedans, maar in Gr. 7 die hoofrol gekry. “Dit is daardie jaar wat ek besef het ek wil met graagte dans. Ek is so dankbaar vir Juffrou Elria wat my talent raakgesien het nog voordat ek dit self kon sien.”

Toe hy na Potchefstroom verhuis, het hy onmiddellik vir hom ‘n dansskool gesoek. “Ek het net nooit opgehou om te beweeg nie. Ek het as kind op my ma se voete gestaan sodat sy my kon leer sokkie. As ons musiek geluister het in die kar sou ek maak asof my vingers agtergrond-dansers vir die sanger was. My lewe is dans en ek sien myself nie iets anders doen nie. Dans is nie net my passie nie dis die manier hoe ek die Here kan prys vir die talent wat ek koester. Dans is vryheid vir my.”

Nadat hy sy laaste kompetisie saam met die dansskool in Desember 2022 gedans het, het hy depressief geword. “In 2023 was ek baie depressief en agstig omdat ek nie meer ‘n uitweg gehad het wat dans vir my kon gee nie. In daardie selfde jaar het ek besluit om my eie ding te begin, net om weer te dans.”

Dit is toe wat hy JDP (Jay Dance Project) begin het. Dit was in die begin baie stil, maar het later opgetel. “In Januarie toe begin besigheid optel en ek het nie net dans terug nie, ek het die vooreg gehad om dans as ‘n sport en kuns te kon deel met ander mense. Ek en een van my dansers het hierdie jaar by die Gimmies Eisteddfod besonders goed gedoen.”

Jay-Dee moes egter sy dansskool vir tyd en wyl sluit nadat klomp klagtes ontvang is omdat hy nie gekwalifiseerd is nie. “Ek is tans besig met my junior teaching certification sowel as matriek. Ek wil die kwalifikasie agter my naam kry sodat ek weer my dansskool kan oopmaak. Al die negatiewe kommentaar en dinge motiveer my om net eenvoudig harder te werk.”

Jay-Dee sê hy sal dans tot hy die dag doodgaan. “My grootste droom is om ‘n choreograaf vir ‘n groot groep dansers te wees, agtergronddans vir groot sangers te doen en deel te wees van groot optredes. Ek is gemaak vir die verhoog en dit weet ek goed. Elke keer wat ek op die verhoog loop, voel ek tuis. Sonder die drome het ek nie rede in my wese nie. Ek is ‘n danser en dit sal ek bly.”

Exit mobile version