Local news

Is Ventersdorp die rede vir miljoene se sklud aan Eskom?

Die munisipaliteit het in 2023 sowat R70 miljoen se krag aan Ventersdorp gelewer, terwyl dit slegs sowat R45 miljoen se fakture uitgestuur het.

Die stadsraad moes tydens ‘n onlangse raadsvergadering ‘n afbetalingsplan goedkeur weens die sowat R213 miljoen wat dié munisipaliteit aan Eskom skuld.
Die munisipaliteit sukkel al sedert Augustus verlede jaar om betalings aan Eskom te maak. Volgens ‘n dokument wat die Herald onder oë gehad het, is daar by ‘n raadsvergadering verduidelik dat die vraag na krag in die wintermaande baie toegeneem het, terwyl Eskom hoër tariewe vra wat die munisipaliteit nie na verbruikers afwentel nie. Verdere verduidelikings in die dokument verwys na die konstante verlaging van invorderings wat die munisipaliteit verder kelder. “In dieselfde tydperk het die munisipaliteit betalings aan diensverskaffers aan wie die munisipaliteit nog geld geskuld het betaal, wat ‘n verdere negatiewe impak op die kontantvloei gehad het,” lees die dokument. Volgens Hans Jurie Moolman, raadslid in die munisipaliteit, is daar verskeie redes waarom die munisipaliteit so baie aan Eskom skuld. “Onwettige koppelings, fakture wat nie betaal word of nie uitgestuur word nie. Veral in Ventersdorp is dit ‘n groot probleem. Volgens my inligting is die invorderingskoers in Ventersdorp maar iets soos 15-20%,” het Moolman gesê.
Die Herald het ‘n vergelyking gekry van krag wat vir Ventersdorp deur die munisipaliteit gelewer word en fakture wat na verbruikers in Ventersdorp gestuur word.
In Augustus verlede jaar het die munisipaliteit sowat R12 miljoen se krag aan Ventersdorp gelewer, terwyl dit fakture van slegs sowat R2 miljoen uitgestuur het.
Die munisipaliteit het in 2023 sowat R70 miljoen se krag aan Ventersdorp gelewer, terwyl dit slegs sowat R45 miljoen se fakture uitgestuur het. Al was die invoderingskoers in Ventersdorp 100% sou die munisipaliteit steeds R25 miljoen in die rooi wees vir 2023.
“Ons lewer verniet krag, die vraag is of krag afgesit word wanneer dit nie betaal word nie? Waarmee moet die tekort betaal word? Uit watter bron van inkomste?,” het Moolman gevra.
Volgens die dokument wat in die raad bespreek is, sal ‘n kombinasie van die toedeling van fondse van die nasionale tesourie en interne befondsing gebruik word om die skuld teen 1 April 2025 te betaal.
“Ons het belasting, water en krag, boetes en gebruik van openbare fasiliteite en lisensiegelde om die begroting the befonds. Gedeeltes hiervan gaan nou gebruik moet word om die skuld te betaal, met die gevolg dat daar minder geld vir byvoorbeeld instandhouding beskikbaar is,” het Moolman gesê. Die raad en Eskom het die afbetalingsooreenkoms goedgekeur.

Volgens Jeaneatte Tshite, munisipale woordvoerder, is daar sommige gebruikers wie se krag nie afgesit word nie.

“Die munisipaliteit het betalingsoorkeenkomste met verskeie verbruikers onderhandel om uitstaande gelde in te vorder. Noodsaaklike dienste soos hospitale en polisie stasies, sal aanhou krag vanaf die munisipaliteit ontvang ten spyte van uitstaande skuld,” het Tshite verduidelik.

Volgens haar is die munisipaliteit besig om saam met die departement van samewerkende regering te werk om R110 miljoen se skuld van verskeie departemente af in te vorder.

“Informele nedersettings is ook in die proses om geformaliseer te word sodat inwoners amptelik aan die kragnetwerk gekoppel kan word en sodoende gefaktureer word vir die gebruik. Wanneer die munisipaliteit inwoners se krag af gesit het, as gevolg van wanbetaling het hulle na onwettige koppelinge oorgeskakel. Die munisipaliteit het aangesoek gedoen vir fondse om slimmeters te installeer. Hierdie meters sal help dat alle gebruikers meer akkuraat gefaktureer word,” het Tshite gesê.

Related Articles

 
Back to top button