Local news

Slagoffers van konsentrasiekamp in Potch herdenk

“Alhoewel vergifnis vir die wandade van die verlede baie belangrik is, is dit eweneens belangrik om te onthou wat die vroue en kinders in die konsentrasiekampe deurgemaak het"

Potchefstromers het op 16 Junie by die konsentrasiekampterrein in Bailliepark byeengekom waar ’n gedenksteen opgerig is vir die 967 kinders, 117 vroue en 57 mans wat by hierdie konsentrasiekamp dood is.

Vanjaar het nagenoeg 50 mense, insluitend jong kinders, die koue getrotseer om saam die slagoffers van die konsentrasiekamp in Potchefstroom te onthou en hul nalatenskap lewend te hou.

Lede van die AfriForum-tak het ’n kort toneelstuk getiteld Weg met die kampskool deur Gideon Wentink opgevoer, waarin die realiteite van konsentrasiekampe geïllustreer is.

Charl Blignaut het op sy beurt ’n historiese oorsig gegee oor die lot van vroue en kinders wat by die konsentrasiekamp in Potchefstroom aangehou is. Blomkranse is ook deur die Potchefstroom-tak, Blignaut en lede van die gemeenskap by die gedenksteen gelê.

Blomkranse is ook deur die Potchefstroom-tak, Blignaut en lede van die gemeenskap by die gedenksteen gelê.

 

“Alhoewel vergifnis vir die wandade van die verlede baie belangrik is, is dit eweneens belangrik om te onthou wat die vroue en kinders in die konsentrasiekampe deurgemaak het en dat ons dankbaar moet wees dat ons Hemelse Vader die Afrikaner uit die as laat opstaan het. Ons moet hierdie slagoffers se geloof en vertroue in die Here as rigsnoer vir ons lewens gebruik,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier-streek.

“Die toewyding en betrokkenheid van elke AfriForum-lid en Potchefstromer het gehelp om van dié geleentheid ’n sukses te maak. Saam sal ons jaar na jaar hierdie nalatenskap onthou en herdenk.”

Raak vandag nog by Potchefstroom se AfriForum-tak en -buurtwag betrokke. Kontak Douglas Bourn by 083 232 1020 om by die tak aan te sluit en Cornelia Blignaut by 073 390 4133 om by die buurtwag aan te sluit.

Related Articles

 
Back to top button