Local news

Student word visser vir Jesus

"Ek verwag dat ons vaartuie gaan wees wat die reeds Christene help om te groei in hul geloof, en om die Lig van die Evangelie helderder daar te laat brand.”

“Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” Matteus 28 vers 19 is die Bybelvers wat Anjenette Klopper, ‘n tweedejaar onderwysstudent aan die Noordwes-Universiteit geïnspireer het om op ‘n sending na Tanzanië te gaan.

Anjenette en ‘n groep van vyf ander vertrek 27 Junie na Dar es Salaam om tien dae daar te spandeer en sendingwerk te doen. Die groep van ses het vyf intense opleidingsessies by Shofar, wat ook die sending aanbied, ondergaan om hul voor te berei op die sendingstog. “Ons moes Encounter een en twee bywoon. Encounter een leer jou meer oor Jesus, sy lewe en ook meer oor die kerk. Encounter twee leer jou meer oor jou lewe as ‘n Christen en hoe jou familie, vriende, jou roeping en meer daar inpas,” vertel Anjenette met opgewondenheid wat in haar oë vonkel. “Ons het wêreldbeskouingsopleiding gekry, wat onder meer inligting bevat wat verduidelik waarom God die enigste Ware God is.”

Hierdie inligting is belangrik, aangesien dit die sendelinge gaan help om die inligting reg oor te dra. Aangesien Tanzanië ‘n land is wat 60% uit Christenskap bestaan en 40% Moslem-geloof, het ons opleiding gekry in die Moslem-geloof wat aan ons verduidelik hoe jou lewe as ‘n Moslem lyk.” Anjenette voeg by dat die gebied in Tanzanië waarin hulle gaan werk merendeels Moslem is, en dus is dit dus meer belangrik dat hulle die geloof verstaan. “Ons laaste opleiding was Saterdag, 18 Mei. Dit gaan handel oor die belangrikheid van uitreike en waarom ons dit moet doen.” Anjenette sien baie daarna uit om te groei in haar geloof tydens die uitreik.

Haar hande praat saam wanneer sy vertel dat sy nie verwag om Jesus Tanzanië toe te vat nie, want Jesus is reeds daar. “Ek verwag dat ons vaartuie gaan wees wat die reeds Christene help om te groei in hul geloof, en om die Lig van die Evangelie helderder daar te laat brand.” Anjentte vertel dat hul ‘n kinderhuis wat 200 inwoners het ook gaan besoek tydens die uitreik. “Ek hou nie eintlik baie van kinders nie. As opkomende hoërskoolonderwyseres het ek ‘n groot passie vir die jeug, maar daardie passie het ek nog nooit vir kinders gehad nie. Toe ek uitvind ons gaan met kinders ook werk, kon ek voel hoe die Here reeds my hart teenoor kinders begin verander. Ek sien uit daarna om te leer om empatie te hê en te leer hoe om met kinders te speel en hul te versorg.” Die uitdagings laat Anjenette nie terugstaan nie. “Ek sien veral uit daarna om in ‘n land te wees waar almal nie net ja en amen as mens praat oor Christenskap nie. Ek wil graag getoets word om op die manier te sien hoeveel ek van hul geloof en Christenskap weet.”

Die sendelinge gaan in ‘n gevestigde sendingstasie tuisgaan waar hul ontbyt en middagete gaan kry, maar vir aandete is hul aan hulself oorgelaat. “Daar is ‘n aandmark baie naby aan die sendingstasie, so ons gaan in die aande daar kos kry en dit gebruik as ‘n geleentheid om na mense uit te reik.” Anjenette het natuurlik reeds baie navorsing oor Tanzanië gedoen, maar kon nog nie op die ekwivalent van melktert of braaibroodjies afkom nie. “Ek sien uit daarna om die kultuur te ervaar en hulle kos te probeer.” Anjenette se geloof in God brand helder en sy vertel meer oor die persoonlike groei wat sy hoop om te ervaar. “Ek hoop om meer sensitief vir die Heilige Gees se werking deur my te word, veral in oomblikke wanneer mens op jou voete moet dink en moet staatmaak op die Heilige Gees om die regte woorde te hê.”

As aanbeveling vir ander wat twyfel of hul op ‘n sending moet gaan of nie, gee Anjenette Matteus 28 vers 19. “Daar is baie ander verse in die Bybel wat ook oor die belangrikheid van sending praat, maar Matteus het my geroep.”

Related Articles

Back to top button