Local news

Geloof, gehoorsaamheid en ‘n nuwe begin vir die Bult

Pastoor Louis Paulus deel Unite180 se opheffingsplanne vir die Bult.

Unite180, een van die pilare van Christenskap in Potchefstroom, is besig met planne om vir die Bult ‘n nuwe baadjie aan te trek en dit te herstel na die Studentemekka wat dit eens was. Unite180 is in 2013 deur pastoor David Grobler gestig en in 2015 het die kerk ‘n huis in Potchefstroom gevind.

In 2022 het die kerk van krag tot krag gegaan deur die boonste vloer van die ou ABSA-gebou op die bult aan te skaf en in 2023, na vele opknappingsprojekte, het kerkdienste in die gebou begin plaasvind. Die span by Unite180 is egter nie klaar nie en Willbert Kinnear, betrokke by Unite180, kondig aan dat opknappingswerk aan die Bult self gedoen gaan word. “Ons wil die ondergrondse waterprobleem by die Insleep vierrigting-stop aanspreek, sowel as om die vierrigting se teeroppervlak oor te bou aangesien dit bykans onbegaanbaar is. Hierdie planne is reeds bykans drie maande aan die gang en is tans in die finale stappe voor die fisiese herstelwerk begin,” verduidelik Willbert. “Die padoppervlak op die Bult sal oorgedoen word, asook die parkeerterrein (oorkant Cachetpark).”

Minique Steward, pastoor Louis Paulus en Johan Naudé by die kruising wat bykans onbegaanbaar is.

Willbert voeg by dat die Bult tans sukkel met veiligheid aangesien baie van die straatligte buite werking is. Unite180 gaan die herstel van die straatligte deel van hul projek maak. Johan Naudé, bestuurder van CID op die Bult, sluit by Willbert aan deur te sê dat hy baie opgewonde is oor die positiewe verskil wat die kerk op die Bult gaan bring. “Omtrent 70% van ongelukke op die Bult is as gevolg van alkohol. Bakleiery en sakdiewe het ook toegeneem. Ek sal baie graag ‘n afname in hierdie kontakmisdade wil sien, aangesien dit juis met die kontak-misdade is waar studente die meeste seerkry.” Johan staan op die balkon by Unite180 en wys na ‘n koeëlgat in die muur. Dis hierdie tipe gevalle wat groot kommer by Johan wek, en hy sien uit daarna om verminderde gevalle soos dié te sien.

Die koeëlgat waarna Johan verwys het.

Pastoor Louis Paulus is passievol oor die opgraderingsprojekte by die Bult en noem dat hulle wil seker maak die Bult is ‘n netjiese, skoon en veilige omgewing. “Ons wil ‘n beeld en gevoel van opheffing skep in die omgewing.” Pastoor Louis deel ‘n getuienis van geloof en vertel dat Unite180 aanvanklik nie die ou ABSA-gebou se boonste vloer wou aanskaf nie aangesien die Bult so ‘n problematiese area geword het. “God het herhaaldelik vir ons gesê dat dit is waar Hy ons wil gebruik, en ons het geluister.” Minique Steward bestuur DC Café, ‘n koffiewinkel wat deel vorm van Unite180. Minique het self op Potch grootgeword en is hartseer oor die verval wat die Bult-area die afgelope vier tot vyf jaar beleef het.

Minique Steward, pastoor Louis Paulus en Johan Naudé staan in die parkering voor CID wat opgegradeer gaan word.

“Die Bult was altyd die aantrekkingspunt van Potch. As mens terugdink besef jy hoe dit agteruit gegaan het. Ek is opgewonde om die terugkoms van die Bult te sien.”

Die rooi merke op die kaart dui min of meer aan waar die opgraderings aan die teer-oppervlak gedoen gaan word.

Unite180 is opgewonde oor Fire and Fragrance, die Christelike organisasie, wat die grondvloer van die ou ABSA-gebou gekoop het en reeds deel geword het van die opknappingsprojekte. “Hulle het ‘n hart vir uitreike en die gemeenskap en gaan ‘n positiewe kultuur tot die omgewing bydra,” noem Willbert. Unite180 bied biddienste aan op ‘n Saterdag an 21:30 tot 22:30 en kerkdienste op ‘n Sondag 9:00 en 17:00. Die kerk nooi almal uit om die biddienste en kerkdienste by te woon.

 

Related Articles

 
Back to top button