Local news

Inwoner bekommerd oor watervermorsing by Potch Dam

“Dit beteken daar gaan 80 liter skoon water per uur verlore, en 1 920 liter per dag," Mariette Hitge is bekommerd oor die watervermorsing.

Mariette Hitge, ‘n inwoner van Potchefstroom, het die Herald genader oor ‘n kraan wat in ‘n badkamer by Potchefstroom Dam lek. Mariette is ‘n driekamp-atleet en het in 2014 by die dam begin swem waartydens sy opgelet het dat een van die krane in die badkamer naaste aan die bootklub permanent drup, hoewel die kraan styf toegedraai is. In 2018 het hierdie kraan volstroom begin lek. Nou, in 2024, lek dit steeds. “Dit is skoon water wat absoluut vermors word,” merk Mariette op. “Te midde van die waterprobleme wat Potchefstroom en die omliggende omgewing ervaar is dit skokkend dat ‘n kraan so lek.” Mariette is ‘n wiskundige en het besluit om ‘n eksperiment te doen om te bepaal hoeveel water vermors word. Sy het ‘n twee liter bottel en stophorlosie gevat om te kyk hoe vinnig die kraan die bottel vol maak. Binne ‘n minuut en ‘n half was die bottel vol. Mariette doen toe ‘n paar somme en sê: “Dit beteken daar gaan 80 liter skoon water per uur verlore, en 1 920 liter per dag.” Mariette is geskok deur die hoeveelheid water wat verlore gaan. “Vir die afgelope vyf jaar wat die kraan reeds so lek, het 3 500 kiloliter water verlore gegaan. En dit is maar een van die krane wat by die munisipale dam-oord lek. Elke badkamer het krane en toilette wat lek.

Die wasbak met die lekkende kraan is gevlek van jare se water wat vloei. Foto’s: Cornelia Hitge.

“Meeste van hierdie lekke was reeds daar voor die Covid 19- pandemie. Dit is nie eens herstel tydens die groot opgradering wat die oord gekry het omdat dit as ‘n kwarantynfasiliteit gebruik is tydens dié pandemie nie. Ons besoek die dam-oord gereeld. Ons teleurstelling was baie groot toe ons weer die fasiliteit na die pandemie kon besoek en al die krane en toilette het steeds net so baie gelek en selfs meer. Dit is veral in die kamp-area se badkamers en buitekrane waar daar baie water verlore gaan,” merk Mariette op. “Buiten die waterlekke is die badkamers vuil en toe onder die spinnerakke. Daar lê ook gedurig plasse water op die vloer. Van die toilette is bevuil, daar is nie toiletpapier in die badkamers nie en ook nie seep by die wasbakke nie. Buite die badkamers het lang gras die piekniek-area oorgeneem. “Die enigste begaanbare area is ‘n klein stukkie wat deur die ganse by die dam kort gehou word,” verduidelik Mariette.

Mariette Hitge (1.6m lank) staan in die gras om te wys hoe lank dit
is. Foto: Cornelia Hitge.

Een van die ander vrouens wat deel is van ‘n groep wat gereeld daar swem, merk op dat die tekort aan dienslewering hartseer is. Die vermorste water is egter die grootste probleem, veral aangesien Suid-Afrika as ‘n geheel ‘n waterskaarste beleef. “Suid-Afrikaners gebruik gemiddeld 235 liter per dag. Daar lek dus sowat agt persone se water per dag uit by daardie kraan alleen. Dalk moet die munisipaliteit erns maak met gewone, maklik herstelbare waterkrane, dan hoef die NWU nie sy studente vir ‘n week huis toe te stuur nie,” merk Mariette op. * JB Marks Munisipaliteit se woordvoerder, Jeanette Tshite sê volgens die Departement van Munisipale Dienste het die lek eers onlangs begin. “Daar word aandag aan die probleem gegee en die Departement van Tegniese Dienste sal gevra word om die lek te herstel.”

Related Articles

 
Back to top button