Local news

Bykans twee dekade oue waarskuwing oor Eikebome nou bewaarheid

Darren Kruger, eienaar van Pest Control in Potchefstroom het reeds in 2007 aan die Herald genoem dat die termiete 'n bedreiging vir die bome is.

Lennie Gouws het in 2017 vir die Herald ‘n artikel geskryf oor die geskiedenis en toestand van die geskiedkundige Eikelaning in Potchefstroom. Hierdie artikel is 3 Februarie 2017 gepubliseer en noem dat die aantal bome van 710 bome na 530 bome afgeneem het. Nou, sewe jaar later, blyk dit asof daar nog geen omdraaipunt vir die bome gekom het nie.

Die Eikelaning is 20 Augustus 1910 deur die toentertydse stadsraad begin. Die projek het by Potch Dam en die Bult begin en is later verder uitgebrei. Die Eikelaning, wat bykans 7 km lank is, is besig om by die dag agteruit te gaan.

Die eerste slag wat die bome getref het, was Potchestroom se voorbesproeiing wat in Oktober 1972 toegemaak is. Die tweede slag was verbouings in die dorp en sypaadjies wat met klippies of plaveistene bedek is. Dit beteken dat daar minder grondwater vir die bome is. Die derde slag was ‘n infeksie van Europese skubbe wat die bome aangeval het. Die vierde slag was behuising- en besigheidsuitbreidings in die Bult area wat gelei het na die kompaktering van grond. Die vyfde slag, wat tans ook die hardste slag is, is termiete wat die bome vir kos en behuising benut.

Darren Kruger, eienaar van Pest Police, het in 2007 in ‘n berig aan die Herald gesê dat die Eikelaning, wat boonop die langste laning in die Suidelike halfrond is, teen termiete behandel moet word om die voortbestaan van die bome te verseker. 17 jaar later is Darren se vrese bewaarheid met die Eikelaning wat sigbaar agteruitgaan en meer as 100 bome wat deur termiete oorgeneem is. Kruger noem dat die termiete, maar ook ‘n tekort aan grondwater as gevolg van verbouings en uitbreidings die bome onderkry. Hy verduidelik hoe die termiete die bome aanval; “Dit is ondergrondse, houtvernietigende termiete. Hul val die bome aan vanuit hul neste onder die grond deur die bas van die bome af te vreet. Die bome is dan blootgestel aan die natuur se elemente wat die boom doodmaak. Die termiete eet dan die dooie boom op.”

Andries Lottering, ‘n gifkenner wat by Envu (voorheen bekend as Bayer) werk, bevestig dat die bome vroegtydig behandel moet word. “Die jong bome wat aangeval word kan nog gered word, maar as die bome nie vroegtydig behandel word nie, is dit te laat.” Kruger voeg by dat die bome dringend teen termiete behandel moet word en op ‘n gereelde basis gemonitor moet word. “Ek wil hê my kinders moet ook die laning eendag geniet,” voeg hy by. Hy noem dat die gif nie skadelik vir die bome of die omgewing is nie, slegs die termiete.

Johnnie van den Berg, entomoloog aan die Noordwes-Universiteit (NWU) noem dat die termietneste nie ‘n nuwe verskynsel is nie en dat van die ondergrondse neste baie oud kan wees.

Jolita Jansen van Rensenburg, voorsitter van die Eikelaanbelangegroep bevestig dat die bome onder stres verkeer en deur termiete aangeval word. “Van die bome wat termiete het is behandel, hoewel dit ‘n deurlopende probleem is en fondse daarvoor beperk is,” sê Jolita. “Ons is tans in die proses om ‘n opname van al die bome en die toestand van elke boom te dokumenteer en ‘n internet straatkaart met foto’s van elke boom op ons webblad te plaas.” Jolita noem dat watertoevoerlyne na beddings op die Bult herstel kon word en dat hul poog om dit in ander areas ook te herstel. “‘n Aansoek is ingedien by die munisipaliteit om die Eikelaning as ‘n precinct te verklaar,” sê Jolita. “Dit sal die versorging en bewaring van die bome op plaaslike vlak kan reguleer waar bywette ook ingestel kan word vir beskerming en versorging van die bome.”

Die Eikelaanbelangegroep het sedert 2021 reeds 45 nuwe bome geplant en betrek plaaslike skole om bewustheid te skep oor die bewaring van die bome. Die Eikelaanbelangegroep poog om die gemeenskap bewus te maak van die toestand van die bome deur gereeld inligting op sosiale media deur te gee oor die versorging van die bome. Daar is verskeie maniere wat besighede en eiedomseienaars die Eikelaanbelangegroep kan help om die Eikelaning te beskerm en versorg.

  • Gee die bome gereeld water.
  • Moet nie onder die bome plavei of parkeer nie.
  • Maak tuin onder die bome om te verseker dat hul gereelde water en aandag kry.
  • Plant gras onder die bome.
  • Moenie borde of kennisgewings met spykers of ander voorwerpe aan die bome vassit nie.
  • Maak seker dat grond nie vasgepak is teen die stam van die boom nie.

Indien jy belangstel daarin om deel te word van die Eikelaanbelangegroep, stuur ‘n boodskap na/of bel 082 775 8477. Jy kan ‘n e-pos stuur na eikelaanpotch@gmail.com asook hul Facebook en Instagram profiele by #eikelaanpotch volg.

Related Articles

 
Back to top button