Local news

Potchefstromer se boek vertel ‘n inspirerende verhaal van hoop

Trudie Badenhorst se boek is ‘n lewensreis deur trauma na hoop en genesing.

Een van Potchefstroom se inwoners, Trudie Badenhorst, het Donderdagaand, 14 Maart ‘n groot mylpaal bereik toe sy haar eerste boek, HOOP? Vir seker!, bekendgestel het.

Sy vertel in die boek van ‘n lewe deurspek met die trauma van verwerping, verpletterde drome, verliese van geliefdes aan kanker en ander tragiese ongelukke. Dit sluit in aspekte soos tienerselfdood, die alleen stryd met ‘n chroniese siekte en prestasie gedrewenheid.

Professionele jaloesie en skyndood word ‘n lewe van wondergenesing, wat lei na vergifnis, bevryding en ‘n unieke en passievolle derde kans op die lewe. 27 mede-skrywers se getuienisse van hulle eie soeke na en die vind van hoop, word by die van Trudie ingevleg, wat van die boek moet-lees, positiewe leesstof maak.

Trudie is ‘n oudonderwyseres (BA. Ed) met ‘n Honneursgraad in Afrikaans, verdere opleiding in Psigoneurologiese Leergestremdhede en is ‘n gekwalifiseerde NAP-breinprofiel spesialis.

Sy, saam met haar man Deon, is mede-stigter en direkteure van Neuroworx Opleiding en Ontwikkeling – ‘n breingebaseerde opleidingsmaatskappy met sy hoofkantoor hier in Potchefstroom.

Die gaste luister aandagtig tydens die paneelbespreking tussen Trudie Badenhorst en GD
Prinsloo oor die boek HOOP? Vir seker!
Trudie Badenhorst tydens die
bekendstelling van haar boek
HOOP? Vir seker! met sy
besonderse voorblad. Foto: Verskaf.

Die aand is ingelei met ‘n video-insetsel van een van haar oudleerlinge, Rolene Strauss (voormalige Mej. SA en Mej. Wêreld, 2014), wat onder andere gesê het:

“Wanneer ‘n mens terugdink aan jou grootwordjare kan jy die individue wat werklik ‘n impak op jou gehad het, op jou een hand tel. As jy gelukkig is, val een van jou onderwysers onder daardie kategorie. Ek was bevoorreg om so ‘n onderwyseres in juffrou Trudie te kon ken. ‘n Onderwyseres wat die potensiaal in my kon sien voordat ek dit self kon sien. Wat my gemotiveer het om die dag aan te gryp en die beste weergawe van myself te word. ‘n Juffrou wat sê: ‘Carpe Diem, maak die meeste van elke dag!’. ‘n Mens vergeet so maklik wat iemand vir jou gesê het, maar nooit hoe hulle jou laat voel het nie.”

As oudkollega skryf Brand Pretorius (afgetrede Hoof Uitvoerende Beampte van McCarthy Motors) in die Voorwoord van die boek: “Trudie getuig met oortuiging oor hoe haar Hemelse Vader haar bygestaan het en hoe wonderwerke gebeur het. Desnieteenstaande ’n kroniese pynsindroom is sy ’n toonbeeld van ’n persoon met ’n positiewe visie en diepe dankbaarheid in haar hart. Haar entoesiasme en opgewondenheid vir die lewe is aansteeklik ten spyte van al die pyn en hartseer wat sy al belewe het. Haar liefde vir die Here is bykans tasbaar. Dit en haar onwrikbare geloof stel haar in staat om met entoesiasme uit te roep: ‘Hoop? Vir seker!!’.”

Trudie Badenhorst vertel van ‘n lewe vol struikelblokke, maar dat hoop en die Here mens deur dit dra.

Johan Coetzee van Naledi Uitgewers beskou HOOP? Vir seker! as baanbrekerswerk in ‘n tyd wat hoop vir elkeen so nodig is. Dit is beskikbaar by Exclusive Books, Bargain Books en verskeie ander boekwinkels, asook aanlyn by Naledi Books 

 

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button