Local news

Senior student se verhoor sal 27 Maart voortduur

Senior student Shaun Christie se dissiplinênere verhoor sal 27 Maart voortduur.

‘n Senior student aan die NoordwesUniversiteit (NWU), Shaun Christie, se verhoor sal weer op 27 Maart voortgaan.
Christie se verhoor het 12 Maart by die NWU se Potchefstroomkampus begin.
Daar is aanvanklik verwag dat die verhoor drie dae sou duur. AfriForum Jeug se bestuurder, Ronald Peters, het verlede week gesê dat Christie se verhoor weer op 27 Maart sal hervat.
Christie word daarvan aangekla dat hy “haatspraak deur studente aan te hits om teen die LGBTQIAP +-gemeenskap op te staan”, opsetlike ontwrigting van ‘n universiteitsprogram, die regte van die spreker tydens die sessie geskend, homself skuldig gemaak het aan vyandige behandeling van die LGBTQIAP+-gemeenskap en wederregtelik en met opset beweerde onverdraagsaamheid teenoor Christelike waardes gemaak het. Christie het ‘n LGBTQIA+ praatjie tydens ‘n Registrasie en Oriëntasie-sessie onderbreek waarna studente opgestaan het en die sessie verlaat het.
Die NWU se visekanselier, prof. Mzubanzi Bismark Tyobeka, het die volgende standpunte in ‘n e-pos gekommunikeer:
1. Gedurende my ampstermyn as die Hoof Dissiplinêre Beampte van studente, was geen student by ons instelling (die NWU) op grond van hul geloofsoortuigings geskors van universiteitsaktiwiteite nie.
2. Die student is nie geskors omdat hy vir sy Christelike oortuigings opgestaan het of dit uitgespreek het nie.
3. Die NWU is die programeienaar van onder meer ‘n registrasie- en oriënteringsprogram wat sessies behels waar studente onder meer ingelig word oor die grondwetlike beskerming wat aan minderheidsgroepe by ons instelling gebied word, insluitend maar nie beperk tot, internasionale studente, studente met gestremdhede, en studente wat met die LGBTQIAP+-gemeenskap geassosieer word. Bywoning van die spesifieke sessie waarna in die dissiplinêre proses verwys word, is nie verpligtend nie, en die genooides was beperk tot eerstejaarstudente, studenteleiers, werknemers van Studentelewe-portefeulje en gassprekers.
4. Die student, (Shaun Christie) is ‘n finale jaar regstudent en was nie genooi na die sessie nie. Nietemin het die student die sessie bygewoon sonder om toestemming te vra om dit by te woon of om as spreker op te tree.
5. Lys die aanklagte teen Christie.
6. Ons instelling (die NWU) erken, respekteer en omhels alle gelowe op ons kampusse, sowel as die regte van enige persoon(e) van minderheidsgroepe insluitend die LGBTQIAP+ gemeenskap, saam met alle ander grondwetlike regte wat ons Grondwet aan ons verleen.
7. Opmerkings dat die student op grond van sy godsdiensoortuiging geskors is, is onwaar. Die universiteit respekteer verder ons trotse godsdienstige erfenis solank hierdie respek nie ‘n beeld skep dat ons slegs ‘n Christelike openbare hoëronderwysinstelling is nie. As ‘n eenheidsinstelling omhels ons persone uit alle vlakke van die lewe, gelowe, ras, geslag, taal, en die grondwetlike reg om jouself vryelik op ons kampusse uit te druk solank dit uitgevoer word sonder om onredelik inbreuk te maak op die regte van ander.
8. Ons vertrou dat die inligting hierbo sal help met die verspreiding van korrekte inligting in die publieke domein rakende die huidige dissiplinêre proses van die student (Shaun Christie).
Die universiteit sal nie betrokke raak by besprekings oor spesifieke besonderhede van die dissiplinêre proses nie.
* Die verhoor was geskeduleer vir 29 Februarie, uitgestel tot 12 Maart en dan weer na 27 Maart.

Related Articles

Back to top button