Tiener (16) veg vir sy lewe in hospitaal na fietsongeluk

Daar is nog baie swelling op Andries Botha se brein. Hy is tans onder sedasie op ‘n ventilator in die Netcare Alberton-hospitaal na hy in 'n fietsongeluk op 8 Maart betrokke was.

Die skoolkind wat twee weke gelede in ‘n fietsongeluk op die hoek van Chris Hanistraat en Walter Sisululaan was, veg om sy lewe.

Andries Botha (16) was Vrydag, 8 Maart in ‘n ernstige ongeluk toe ‘n verkeersmotor hom omstreeks 08:30 die oggend by die verkeerslig getref het.

Volgens ooggetuies het Andries glo oor die rooi lig gery voor die voertuig  hom getref het. Hy het ‘n paar meter verder te lande gekom.

Op die dag van die ongeluk het ‘n ambulanshelikopter (Rocket HEMS) vir Andries vanaf Potch na die Netcare Alberton-hospitaal geneem om sy ernstige beserings te behandel.

Volgens Andries se ma, Carina sê dokters dat hy ‘n globale breinberoerte tydens die ongeluk opgedoen het. Dit beteken dat die grootste deel van sy brein basies dood is en dat sy kanse op oorlewing skraal is.

“Daar is nog baie swelling op sy brein. Hy is tans onder sedasie op ‘n ventilator in die Netcare Alberton-hospitaal. Die dokters gaan toetse doen om te bevestig hoeveel lewe daar nog op die brein is, maar intussen gaan hulle voort met behandeling tot die uitslae van die toetse beskikbaar is,” noem Carina.

Haar kind se ongeluk is ‘n groot skok vir Carina wat noem dat sy nog baie vrae het oor alles.

“Ek weet nog steeds nie presies hoe alles gebeur het nie. Andries (wat tuisonderrig ontvang) was op pad huis toe en hy het nooit my WhatsApp-boodskap geantwoord nie. Ek het hom probeer bel om te hoor of hy veilig is, maar daar was nie antwoord nie. ‘n Polisiebeampte het my man toe gekontak en van die ongeluk vertel,” noem Carina.

Noordwes polisiewoordvoerder, lt.kol. Amanda Funani het genoem dat ‘n saak van roekelose en nalatige bestuur ondersoek word.

Exit mobile version