Local news

BirdLife Wesvaal Voëlklub vier 40 jaar in styl

Meer as 70 voëlliefhebbers het by die Elgro Hotel vergader in groot afwagting om klublede, vriende en kennisse weer te sien.

Donderdag, 7 Maart 2024 was ‘n spesiale datum in die geskiedenis van die BirdLife Wesvaal Voëlklub in Potchefstroom.

Nie net is hul 40ste verjaardag gevier nie, maar dit was ook ‘n geleentheid vir ‘n terugskouende kyk na al die hoogtepunte, sowel as ‘n geleentheid om die toekoms in te seën.

Foto’s: Tian du Preez

Die 40ste verjaardagvieringe van die BirdLife Wesvaal Voëlklub was ‘n uitsonderlike geleentheid waar staaltjies gedeel en lekker feesgevier is.

Jarelange vriende van die Voëlklub vanaf Klerksdorp, Stilfontein, Orkney en Ventersdorp het saam in Potchefstroom kom feesvier. Veertig jaar gelede, op 22 Maart 1984 het Ina Stiglingh en 11 vriende besluit om ‘n voëlklub te stig.

Rudy Erasmus, beskermheer het ‘n inspirerende verjaardagboodskap gelewer en ‘n heildronk ingestel op BirdLife Wesvaal sowel as op die toekoms van die klub. Erkenning is ook gegee aan klublede wat die langste lede van die Voëlklub is.

Rita Marais, Petro Lombard, Marietjie Ferraira, Rudy Erasmus, Nick Jonas en Whitey van Pletzen het die eer gehad om die verjaardagkoek te sny.

Daarna was dit storietyd.

Henk Bouwman vertel ‘n staaltjie.
Marietjie Ferreira.
Die BirdLife Wesvaal Voëlklub, Pieter Labuschagne.

Verskeie klublede het met grasie en in detail hulle herinneringe en ervarings oor en van die klub gedeel. Wonderlike avonture, mooi herinneringe en groot dankbaarheid is deur almal benadruk.

Marietjie Ferreira, Stefan Heydenreich, Rita Marais, Willie Victor, Alta Venter, Roy Byers, Dries Kotze, Whitey van Pletzen, Henk Bouwman, Hannalie Kotze, Zoëgné Luyt, Anthonie de Klerk en Corrie Venter het almal hul herinneringe gedeel.

BirdLife Wesvaal is baie bevoorreg en dankbaar vir nuwe en veral jonger klublede wat betrokke geraak het by die klub die afgelope ses maande. Alet Steyn, sameroeper van die Gedenkbad-komitee se susterskind, Rikus van der Merwe het tydens die samestelling van die voëlklub se Gedenkblad sy eie voëlsketse gemaak.

Ongelooflik is die feit dat die 6-jarige Rikus elke voël tot in die fynste detail rakende hul spesifieke eienskappe geteken het.

Alet Steyn en Rikus van der Merwe, haar susterskind, wat as 6-jarige pragtige sketse geteken het.
Een van Rikus se sketse

Foto’s van sy sketse is gewys en het bygedra tot die sukses van die aand. BirdLife Wesvaal het met die klubbyeenkoms lekker feesgevier maar het ook hulde gebring aan die stigterslede en pioniers van BirdLife Wesvaal.

Die klub het 40 jaar lank gewag vir die onvergeetlike geleentheid. Erkenning is ook gegee aan die feeskoördineerder, Lawren Oelofse en lede van die feeskomitee en die gedenkbladkomitee vir hulle harde werk en puik reëlings.

Volgens die klubvoorsitter, Pieter Labuschagne, is BirdLife Wesvaal opreg dankbaar vir alle klublede, vriende, borge, donateurs en ondersteuners wat dit moontlik maak dat die klub in 2024 kan feesvier.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button