Local news

NWU dissiplinêre verhoor vir Shaun Christie skop af

Die dissiplinêre verhoor sal na verwagting drie dae duur.

Die reeds bekende Shaun Christie, senior student aan die Noordwes-Universiteit wat voorheen geskors was nadat hy daarvan beskuldig is dat hy ‘n Registrasie en Oriëntasie (R&O) sessie onderbreek het, se dissiplinêre verhoor skop 12 Maart by die Potchefstroom-kampus af.

Christie sal tydens die verhoor, wat vermoedelik drie dae gaan duur, deur Afriforum Jeug se regspan ondersteun word. Christie en Afriforum Jeug het ‘n pad saam begin stap na aanleiding van Christie se skorsing.

 

Christie word van vyf oortredings beskuldig. Soos voorheen deur die Herald berig is die vyf oortredings as volg:

  • “Haatspraak deur studente aan te hits om teen die LGBTQIAP +-gemeenskap op te staan”
  • Opsetlike ontwrigting van ‘n universiteitsprogram
  • Die regte van die spreker tydens die sessie geskend
  • Homself skuldig gemaak het aan vyandige behandeling van die LGBTQIAP +-gemeenskap
  • Wederregtelik en met opset ’n valse uitlating rakende die universiteit se beweerde onverdraagsaamheid teenoor Christelike waardes gemaak het.

 

Die sessie wat Christie beskuldig word dat hy ontwrig het, was deur die LGBTQIA+-vereniging aangebied. Ronald Peters, bestuurder van Afriforum Jeug, het in ‘n persverklaring gesê dat die LGBTQIA+-vereniging die enigste vereniging is wat toegelaat is om amptelik deel te wees van die NWU se R&O-program. “Dié besluit van die NWU-bestuur het ’n geleentheid vir ontevredenheid geskep, maar nou word Christie gekasty omdat hy opgestaan het vir dit waarin hy glo,” meen Peters. “Ons vertrou egter dat die onafhanklike voorsitter van die dissiplinêre verhoor objektief na elke faset van Christie se saak sal kyk en ook Christie se grondwetlike reg tot vryheid van uitdrukking sal oorweeg.”

 

Christie se tydelike skorsing wat op 13 Februarie gedeeltelik opgehef is, stipuleer dat Christie aan akademiese verrigtigne op kampus kan deelneem, maar nie openbare geleenthede mag bywoon nie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button